MOSSELBAAI NUUS - Gerugte dat vroue wat alleen in hulle voertuie op reis was saans en glo by verskeie punte op Louis Fourieweg "amper aangeval is", het vandeesweek op buurtwaggroepe die ronde gedoen. Die boodskap is ook verder wyd aan individue op WhatsApp versprei.
Die Mossel Bay Advertiser het navraag hieroor gedoen by verskeie polisiestasies in wie se bedieningsarea Louis Fourieweg val. Geen sulke voorvalle kon egter bevestig word nie.
Areas waarna in die WhatsApp-boodskappe verwys is, is meestal Louis Fourieweg, die Langeberg Mall, asook die kruising van Garretstraat (Bayview-omgewing), en Essenhoutstraat (Heiderand) met Louis Fourieweg. In die boodskap word beweer dat verdagte mans glo by verkeerskruisings sou rondstaan met die oog daarop om motoriste te oorval wat by die kruising sou stop.
Kaptein Wollie Fourie van die Da Gamaskop-polisie het by navraag gesê dat hy van sodanige beweringe kennis dra, maar dat die voorvalle nie bevestig kan word nie.
"Daar is geen sulke sake aangemeld nie. Motoriste wat laat saans op die pad is word egter gemaan om bedag en oplettend te wees wanneer hulle 'n verkeerskruising nader en moet stop. Moenie waardevolle items soos handsakke en selfone sigbaar op die motorsitplek hou nie."
Kaptein Fourie het ook aangedring daarop dat, sou motoriste wel slagoffers van sulke voorvalle wees, dat dit onverwyld aan die polisie gerapporteer moet word ten einde misdaadtendense te kan bepaal.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'