MOSSELBAAI NUUS - Nadat Mosselbaai se munisipale raad in Oktober 2000 konsepgoedkeuring verleen vir die vestiging van die SCFM-aanleg, het die Southern Cape Fish Meal (SCFM) verwerkingsaanleg in 2007/8 vanaf George na Mosselbaai verskuif.
Van meet af is kommer uitgespreek oor of Mossdustria korrek gesoneer is vir die vestiging van dié bedryf.
Tog, na wat verneem word, is onlangs nog weer aan die eienaars van die SCFM laat blyk dat die soneringsprobleme vir hul aanleg, wat allerweë as 'n hinderlike bedryf beskou word, "uitgesorteer" sal word. Boonop, het dit geblyk, was die soneringskwessie 'n faktor in die hernuwing van die lug-emmissielisensie. Dié lisensie is intussen geweier.
Die raadsbesluit in 2007 was met dien verstande dat 'n omgewingsimpakstudie gedoen sal word, dat amptelike aansoek by die direktoraat lugbesoedelingsbeheer sal volg en dat 'n volledige beskrywing van die fabriek se bedryf aan die departement omgewingsake voorsien sal word.
Eers in Januarie 2013, desondanks herhaalde klagtes oor veral die onwelriekende aard van die bedryf, is 'n omgewingsimpakstudie onderneem. Daar bestaan ook verwarring in amptelike dokumentasie oor of die vismeelfabriek werklik as 'n hinderlike bedryf geklassifiseer is, al dan nie.
Eden-distriksmunisipaliteit het aanvanklik 'n lug-emmissielisensie aan die SCFM uitgereik. Hierdie lisensie moes onlangs hernu word, en na 'n uitgebreide openbare deelnameproses is die hernuwingsaansoek afgekeur.
Die fabriek is gevolglik opdrag gegee om hul bedrywighede te staak en hul deure te sluit.
Impak op personeel
Die fabriek bied werk aan 33 personeel en 'n wye reeks verwante bedrywe, onder meer karweiers en ingenieurs.
Tydens die Mossel Bay Advertiser se besoek aan die vismeelfabriek op 2 Mei lê 'n plakkaat op die tafel in die ontvangsarea. Dit lees: "Ons het ook regte".
Dit volg op 'n protesbetoging wat die werkers by die Mosselbaai-landdroshof gehou het toe die eienaar voor die hof gedaag is omdat aangevoer is dat hy 'n voldoeningsbevel sou verontagsaam het om onmiddellik werksaamhede te staak.
Hy is op 20 April by die aanleg deur lede van die KwaNonqaba-polisie opdrag gegee om hulle na die polisiestasie te vergesel, waar 'n waarskuwing op hom beteken is om in die hof te verskyn. Dié saak is op 2 Mei van die rol verwyder.
Nadine Wesso (22) sorg as enigste broodwinner vir haar ouma (74) en jonger sussie (13). "Dit voel hier soos een groot familie," sê die jong vrou van Uitbreiding 8. "Die onsekerheid vreet my op."
Segall Buis (23) voorheen van Buisplaas is die enigste broodwinner vir die mense waar hy nou in Aslapark woon. Daarbenewens sorg hy ook vir sy ma en sy eie seun (9). "Ek het juis hier kom werk want hulle sorg goed vir hul mense en die pay is okay."
Ria Cupido (26) van Aslapark werk sodat sy nie haar twee dogters, onderskeidelik 12 en 8 jaar oud moet verloor nie. Sy en haar lewensmaat werk by die fabriek en sal geheel sonder heenkome wees. "Ons vertrou maar," sê sy.
Nasrudien Lawrence (24) van Uitbreiding 8 sorg vir sy drie kinders, waarvan een gestremd is en die jongste nog 'n baba is. "Ek was op drugs, dié werk het my weer rigting gegee." Met sy inkomste kon hy weer sy droom najaag om 'n behoorlike huis vir sy kinders te gee.
Luciano Brandt (27) sê hy het vroeër lank gesukkel om werk te kry en is dolgelukkig by die fabriek. "Ek het net standerd vyf geslaag, maar hier het ek my al opgewerk tot 'n operateur. My meisie verwag, as ek my werk verloor is ek bang ek verloor haar en my kind ook."
'Ek kan dit nie bekostig nie'
Die personeel reageer verslae. Een na die ander vertel hulle dat hulle nie kan bekostig om hul werk te verloor nie, dat die SCFM 'n goeie werkgewer is en dat hulle soos een groot familie saamwerk.
Die oorgrote meerderheid is jongmense, mense van die naasliggende landelike areas wat na Mosselbaai gekom het vir beter vooruitsigte.
"Wat van my kinders, wie gaan vir hulle sorg?" vra 'n man wat hard probeer om sy kinders, wat tans by hul ma woon, onder sy sorg te kry.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'