Update
MOSSELBAAI NUUS - Tydens die vonnisoplegging van 'n egpaar van Mosselbaai, Graeme (56) en Carolina Minne (52) op Donderdag, 21 September in die Thembalethu-streekhof, het regsverteenwoordigers van die egpaar as versagtende omstandighede aangevoer dat die egpaar reeds die afgelope nege jaar tydens die voortslepende hofsaak geweldige stres ervaar het.
Die egpaar het meer as 500 mense van Mosselbaai en omliggende omgewings tot so ver as Kemptonpark se geld tussen 2002 en 2009 in 'n Ponzi-skema belê en is van bedrog van R280 miljoen aangekla.
Volgens mnr Minne se regsverteenwoordiger, het die egpaar sedertdien "alles verloor" en is hulle afhanklik van hulle twee kinders (in hul twintigs) wat in Danabaai bly.
Die voordeur van die Minnes se woning is volgens die regsverteenwoordiger tydens 'n voorval aan die brand gesteek.
"Die egpaar het ook doodsdreigemente ontvang en mev Minne se familie het haar verwerp en haar verbied om met hulle kontak te maak."
Landdros Denis Oberholzer het die egpaar elk skuldig bevind op 'n aanklag van diefstal asook op 'n aanklag van oortreding van die Bankwet.
Tydens vonnisoplegging het Oberholzer gesê mev Minne word ligter gestraf omdat sy berou getoon het vir haar dade en volgens Oberholzer deur mnr Minne gemanupileer is.
Die Minne-egpaar staan by hulle voertuig tydens 'n hofverskyning.
Mevrou Minne is tot drie jaar korrektiewe toesig gevonnis wat huisarres van twee jaar insluit.
Sy is ook vyf jaar gevangenisstraf opgelê wat opgeskort is vir vyf jaar.
Tydens vonnisoplegging het die egpaar, wat reeds 30 jaar getroud is, styf teen mekaar gestaan.
Mevrou Minne het reeds op Vrydag, 22 September met haar korrektiewe toesig begin.
Carolina Minne in die hof.
Astronomiese hartseer
Oberholzer het die "prentjie van hartseer" as astronomies beskryf.
Ongeveer agt slagoffers het die vonnisoplegging bygewoon.
Oberholzer het aan mnr Minne gesê dat hy steeds nie wil erken dat hy selfs nadat die Reserwebank 'n ondersoek teen hom geloods het, voortgegaan het om beleggers se geld te ontvang.
"U het, soos wat u in die hof 'n beeld van selfvertroue getoon het, u slagoffers onder die indruk geplaas dat u steeds vir hulle geld sal kan teruggee."
Volgens Oberholzer het mnr Minne nie berou vir sy dade getoon nie en is hy die een wat op die sakereise en luukse uitstappies gegaan het, "terwyl mev Minne by die huis met haar kinders was."
Staatsaanklaer Xolile Jonas het dit aan die hof gestel dat die Minnes verskeie kanse gehad het om hul optrede te stop.
"Maar selfs nadat mense u bevraagteken het, het u gesê u doen niks verkeerd nie."
Meneer Minne is tot effektief 15 jaar gevangenisstraf gevonnis.
Een van die slagoffers, 'n inwoner van Hartenbos, Alet Boshoff het saam met haar man R600 000 aan die Minnes gegee, maar nie 'n sent teruggekry nie.
Na afloop van die vonnisoplegging het Boshoff gesê, sy is nie tevrede met die vonnis wat mev Minne opgelê is nie.
"Die deler is so goed soos die steler. Sy (mev Minne) word nou net vir 'n rukkie opgepas en dan kan sy weer met haar lewe aangaan, terwyl ons alles verloor het."
Nog 'n slagoffer, Betsie Briers, wat R100 000 aan die egpaar gegee het, het gesê alhoewel sy weer kon aangaan na die voorval, is daar mense wat alles verloor het en op hulle oudag "koerante moet aflewer" net om 'n inkomste te verdien.
"Daar is mense wat al hulle geld vir die Minnes gegee het."
Die saak is suksesvol ondersoek deur kapt Roderick van der Westhuizen van die polisie se teenkorrupsie-eenheid, die Valke.
Lees vorige artikels:
- R280 miljoen bedrogsaak: egpaar gevonnis
- R280 miljoen bedrogsaak: Egpaar skuldig
- Fraud case ends after 6 years
- Hoë profiel bedrogsaak op 'n einde
- Minne-bedrogsaak gaan in George voort
- Minne-bedrogsaak gaan steeds voort
- Beleggers begin in hoë profiel hofsaak getuig
- Minne-bedrogsaak kry momentum
- Minne-egpaar weer in hof
- Minne-egpaar môre weer in hof
- Egpaar weer in hof vir bedrog
- Groot korrupsie-saak gaan voort
- R280 mijoen-bedrogsaak gaan voort
- Egpaar in hof vir R280miljoen-bedrog
- High profile trial in court
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'