Update
TUINROETE NUUS - 'n Man van Mosselbaai wat skuldig bevind is aan bedrog van R280 miljoen is vandag in die Thembalethu Streekshof in George tot effektief 15 jaar gevangenisstraf gevonnis.
Die 56-jarige beskuldigde Graeme Minne en sy 52-jarige vrou Carolina Minne is elk skuldig bevind op 'n aanklag van diefstal asook op 'n aanklag van oortreding van die bankwet.
Landdros Denise Oberholzer het tydens vonnisoplegging gesê mev Minne word ligter gestraf omdat sy berou getoon het vir haar dade en volgens Oberholzer deur mnr Minne gemanupileer is.
Mevrou Minne is tot drie jaar korrektiewe toesig gevonnis wat huisarres van twee jaar insluit. Sy is ook vyf jaar gevangenisstraf opgelê wat opgeskort is vir vyf jaar.
Tydens vonnisoplegging het die egpaar, wat reeds 30 jaar getroud is, styf teen mekaar gestaan.
Die egpaar het meer as 500 mense van Mosselbaai en omliggende omgewings tot so ver as Kemptonpark se geld tussen 2002 en 2009 in 'n ponzi-skema belê.
Oberholzer het die "prentjie van hartseer" as astronomies beskryf. Sy het aan mnr Minne gesê dat hy steeds nie wil erken dat hy selfs nadat die Reserwebank 'n ondersoek teen hom geloods het, steeds voortgegaan het om beleggers se geld te ontvang.
Staatsaanklaer Xolile Jonas het dit aan die hof gestel dat die Minnes verskeie kanse gehad het om hul optrede te stop. "Maar selfs nadat mense u bevraagteken het, het u gesê u doen niks verkeerd nie."
Regsverteenwoordigers van die Minnes het dit aan die hof gestel dat mev Minne se familie haar na die voorval verwerp het dat die egpaar doodsdreigemente ontvang het.
Die saak is suksesvol ondersoek deur kapt Roderick van der Westhuizen van die polisie se teen-korrupsie eenheid, die Valke.
Carolina Minne.
Lees vorige artikels:
- R280 miljoen bedrogsaak: Egpaar skuldig
- Fraud case ends after 6 years
- Hoë profiel bedrogsaak op 'n einde
- Minne-bedrogsaak gaan in George voort
- Minne-bedrogsaak gaan steeds voort
- Beleggers begin in hoë profiel hofsaak getuig
- Minne-bedrogsaak kry momentum
- Minne-egpaar weer in hof
- Minne-egpaar môre weer in hof
- Egpaar weer in hof vir bedrog
- Groot korrupsie-saak gaan voort
- R280 mijoen-bedrogsaak gaan voort
- Egpaar in hof vir R280miljoen-bedrog
- High profile trial in court
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'