TUINROETE NUUS - Na 7 jaar se sloerende hofsake is uitspraak vandag in ‘n hoëprofielsaak in die Thembalethu Landdroshof in George gelewer.
Die beskuldigdes, 'n egpaar van Mosselbaai, Graeme en Caroline Minne is daarvan aangekla dat hulle altesaam R280 miljoen se bedrog tussen 2002 en 2009 gepleeg het.
Die egpaar het meer as 500 mense se geld in ‘n tipe piramiedeskema belê met die veronderstelling dat daar met die geld op die internasionale mark verhandel sou word.
Beloftes is glo aan die slagoffers gemaak dat hulle 4% rente per maand, of 65% rente per jaar sou verdien.
Slagoffers het egter nie hulle kapitale belegging of rente ontvang nie.
Beskuldigde 1, Graeme Minne is skuldig bevind op 'n aanklag van oortreding van die bankwet. Hy is ook skuldig bevind op 'n aanklag van bedrog.
Beskuldigde 2, Caroline Minne is skuldig bevind as 'n medepligtige op 'n aanklag van oortreding van die bankwet en ook skuldig bevind as 'n medepligtige op 'n aanklag van bedrog.
Die saak is uitgestel na 21 September vir voorvonnisverslae en vonnisoplegging.
Die egpaar se borgtog is verleng. Die hof het gelas dat die Minnes nie Mosselbaai sonder telefoniese bevestiging van die ondersoekbeampte in die saak mag verlaat nie. Die egpaar moet ook elke Maandag en Vrydag by die Da Gamaskop polisiestasie aanmeld.
'Ons bring jou dit nuutste Tuinroete nuus'