Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO'S - Mosselbaai het die afgelope naweek vele gebeurlikhede aangebied maar die grootste pret van almal was 'n skattejag wat Saterdag, 3 September in die dorp plaasgevind het.
Met kleurvolle uitrustings het gesinne wat aan die Vastrap 4 x 4-klub se Cannon Ball Treasure Hunt deelgeneem het, na die skat gesoek.
Nege leidrade is opgevolg en dan is daar agter elke leidraad 'n verwysing na die volgende een gegee. Vier punte moes besoek word en dan was daar 52 sleutels gewees wat elke voertuig gevind het.
FOTOGALERY: Skattejag-pret in Mosselbaai
Die groep het vanaf Tuinroete Woonwaens vertrek met 'n roete deur die dorp. Sowat 10 deelnemers vanaf die Kaap en 'n gesin van Pretoria het ook deelgeneem.
Die kinders en vroue is ook betrek en by verskeie punte moes hulle byvoorbeeld hoola hoop en legkaarte bou. Die skattejag het by die Punt geëindig waar almal gekampeer en lekker saam gekuier het.
By die prysuitdeling was daar drie slotte wat die deelnemers probeer oopmaak het met die sleutels wat hulle tydens die skattejag bymekaar gemaak het. Drie van die finaliste se sleutels het gepas.
Wenners
Die wenners van die skattejag was Rudolph en Lillian van der Westhuizen wat met 'n R25 000 prys weggestap het. Elke voertuig het ook 'n prys gekry en daar was addisionele pryse vir die bes geklede gesin, die voertuig met die beste gees en die voertuig wat die beste opgemaak was.
Vir die deelnemers was die eerste Cannon Ball Treasure Hunt groot pret en almal is dit eens dat dit 'n jaarlikse instelling moet word.
Kobus Botha, van die Vastrap 4 x 4 klub en organiseerder van die skattejag, het aan Mossel Bay Advertiser gesê hulle het baie goeie terugvoer gekry en gaan sekerlik volgende jaar die skattejag weer aanbied. Die klub het ook al hulle borge bedank vir die suksesvolle geleentheid.
Echard Kuhn (links), bestuurder van Tuinroete Woonwaens oorhandig die prys aan die wenner, Rudolph van der Westhuizen.
VERSKAFDE VIDEO - Cannon Ball Treasure Hunt verskaf groot vermaak
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'