Dis kompleet wat oorgebly het van die skakelhuisie waarin Johanna Kolkee en haar kinders woon, nadat munisipale kontrakteurs hierdie week toegesak het op Kiewietstraat in D'Almeida, om die ou huisies - soos belowe - te begin afbreek.
Die munisipaliteit dreig reeds lank om die ou huise in Kiewietstraat te sloop. In 2011 is 13 vervalle huise met nuwes vervang. Die ou huise het soveel onherstelbare strukturele probleme gehad dat daar besluit is om eerder nuwe huise op dieselfde erwe te bou en die ou huise te sloop. Die projek het die munisipaliteit R1-miljoen gekos.
Die ou huise is egter nie onmiddellik gesloop nie. Baie gesinne het intussen uitgebrei en bewoon nou beide huise.
In November 2012 het die munisipaliteit 'n tenderkennisgewing uitgereik vir die sloping van die ou huise. Uitvoerende Burgemeester Raadsdame Marie Ferreira het ook destyds, met die oorhandiging van die nuwe huise, die inwoners van Kiewietstraat uitdruklik gemaan om nie huurders in die ou strukture te plaas nie en gesê dat die sloping van die ou strukture ononderhandelbaar is.
Maandag, 29 April, het kontrakteurs begin met die afbreek van die eerste huis in Kiewietstraat.
Inwoners is egter hewig ontsteld - baie mense bewoon die ou skakelhuise en is nou benoud oor wat die toekoms vir hulle inhou.
Die skakelhuis waarin Kolkee en haar ge-sin van vier woon, was eerste aan die beurt, aangesien haar buurvrou blykbaar wel toestemming gegee het dat haar kant van die huis gesloop word. Kontrakteurs het, volgens Kolkee, die een helfte van die skakelhuis platgeslaan en die dak is sommer in die helfte afgeslyp - net haar kant van die struktuur het oorgebly. Die gevolg is dat haar oorblywende huisie nou uiters onstabiel en onveilig is. Kolkee sê haar hele huis is nou vol krake en daar het selfs los bakstene in haar een kind se slaapkamer beland. Hulle vrees vir hul veiligheid.
Sy het 'n saak van saakbeskadiging teen die munisipaliteit by die polisie gaan lê.
Volgens haar, is sy nooit geraadpleeg nie en is daar nie ingenieurs of konstruksie-kenners uitgestuur om te sorg dat die proses ordentlik gevolg word nie.
Dawid Kamfer van ICOSA bemoei hom met die saak. Volgens hom kan daar tot vandag toe nog geen bewyse gevind word dat eienaars destyds toestemming gegee het om hul huise te sloop nie.
Hy sê hy het aansoek gedoen om 'n dring-ende interdik om die verdere sloping van huise stop te sit. Hy is van mening dat die mense se Grondwetlike regte aangetas word - daar is 'n hofbevel nodig voordat 'n huis summier gesloop kan word.
Kamfer sê daar is groot behuisingsnood in die gemeenskap.
Volgens hom is die nuwe huise veel kleiner en in 'n slegter toestand is as die ou huise - die inwoners sal eerder terugtrek na hul ou huise en toelaat dat die nuwe huise gesloop word.
"Hierdie verkiesingsfoefie van 2011 is besig om in almal se gesigte te ontplof," sê hy. "Ek wil my teleurstelling uitspreek oor hoe die munisipaliteit die gemeenskap behandel. Dit is 'n verleentheid vir die mense van Kiewietstraat," sê hy.
"Die probleem is dat hulle die situasie hanteer asof dit leë huise is," som inwoner Lindin Baker die situasie op.
'n Huis word afgebreek. Foto: Tersia Marais
ARTIKEL: MARI SCOTT
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai | Tuinroete nuus'