MOSSELBAAI NUUS - Fanie Visser (51) werk as 'n parkering-assistent by die Langeberg Mall op Mosselbaai en het verlede Woensdag 'n beursie wat 'n inkopieganger in 'n trollie vergeet het, veilig aan die eienaar terugbesorg.
Die eienaar van die beursie, Mosselbaaier Franco van Huyssteen sê dit is 'n wonderwerk dat Visser sy beursie teruggegee het. "My vuurwapenlisensies, kontant en al my kaarte was in die beursie.
"Veral die vuurwapen-lisensies sou maande vat om te hernu."
Visser sê hy het nie tweekeer gedink om eerlik te wees toe hy die groot swart beursie sien nie. "Ek het 'n trollie gaan bêre en die beursie in die trollie gesien. Ek het vir 'n rukkie rondgestaan, want ek het gehoop die eienaar kom dadelik daarvoor terug. Daarna het ek dit by die kantoor gaan ingee. Daar was 'n nommer in die beursie wat ons geskakel het en het op hierdie manier op Franco afgekom. Daar was kontant in die beursie, maar ek het dit nie getel nie."
Visser woon nou eers twee maande op Mosselbaai en is van Johannesburg afkomstig. Die maatskappy waarvoor hy daar gewerk het, het hom onlangs afgelê.
Hy sê hy geniet sy werk en die meeste kliënte is vriendelik. "Ons leuse is vriendelikheid en eerlikheid en dit is hoe ek graag leef."
Fanie Visser het 'n beursie aan die geregmatige eienaar terugbesorg. Hy glo in eerlikheid.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'