MOSSELBAAI NUUS - 'n Uitnodiging word gerig aan alle inwoners en besorgde ouers van Mosselbaai wat gekant is teen dwelmmisbruik onder die jeug en wat 'n ernstige standpunt inneem teen hierdie euwel, om môre, Saterdag 16 Junie, Jeugdag te vier by die D'Almeida-gemeenskapsaal.
Besorgde ouers en die jeug word uitgenooi om hierdie dag met mekaar te deel. Tydens hierdie geleentheid sal voormalige bendelede toesprake lewer om die jeug bewus te maak dat dwelmmisbruik en bendebedrywighede nie die oplossing is vir die jeug se probleme nie.
Daar sal ook kulturele speletjies soos troef, domino's, klawerjas, veerpyltjies en dies meer gespeel word om sodoende die jeug bewus te maak dat daar alternatiewe bestaan soos gesonde tydverdryf in plaas daarvan om by hierdie euwels betrokke te raak.
"Wees asseblief daarvan bewus daarvan dat verversings bedien sal word. Kom almal en geniet die dag saam met ons," nooi Michael Karelse een van die organiseerders.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'