Update
MOSSELBAAI NUUS - Desember was dit vier jaar sedert varkboer Freddie Tolman (56) op sy plaas, Outeniquabosch buite Hartenbos doodgeskiet is. Freddie is op 17 Desember, 2014 deur vermoedelik ses mans op sy plaas ingewag terwyl hy vroegoggend in sy bakkie onderweg was om plaaswerkers op te laai. Hy is twee keer geskiet waarna die verdagtes na die R328-pad gevlug het en 'n voertuig gekaap het.
Freddie se gesin het vanuit die plaashuis slegs enkele meter weg die geweerskote gehoor en hom dood in sy bakkie teen die pad aangetref.
Slegs een man, Lamlani Booi (35) is intussen in hegtenis geneem. Hy dien reeds 'n jaar gevangenisstraf uit nadat regter Robert Henney hom in die rondgaande hooggeregshof op Mosselbaai skuldig bevind het aan die moord op Freddie, roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van 'n vuurwapen en ammunisie. Booi is met die moord verbind deur middel van vingerafdrukke op die gekaapte voertuig asook selfoondata wat hom op die oggend van Freddie se dood met die toneel verbind het.
Freddie se vrou, Mariana asook sy twee seuns Eugene en Roelof is lamgelê ná die sinnelose moord op hulle pa en eggenoot. Hulle moes midde-in hierdie verlies ook nog skarrel om die varkboerdery en slagpale wat Freddie bestuur het op die been te hou. Deesdae is dit egter die droogte wat Mariana en die seuns se moed breek. "Dit gaan nie goed nie," sê Mariana tydens die Mossel Bay Advertiser se besoek vandeesweek. "Ons cope nie. Die droogte het 'n groot invloed op ons."
Mariana raak sigbaar emosioneel voor sy verder gaan: "Ek dink daaraan om die boerdery te stop." Hulle het nie meer water nie. Niks nie, sê sy. "Ons kry ons water uit die Hartbeeskuil, maar dit het heeltemal opgedroog." Boere in die omgewing het al aangebied dat die Tolmans by hulle water kan trek maar "hulle water is ook nou al op".
Tydens 'n ondersoek ter plaatse op die Tolmans se plaas het regsspanne en regter Robert Henney die toneel besoek. Foto: Cornelle Carstens
Water aankoop
Die gesin is nou genoodsaak om water te moet aankoop vanaf die Mosselbaai-munisipaliteit. Varke groei nie as hulle nie water kry nie en dit gaan al vir 'n jaar lank baie sleg, sê Mariana. Die water vir die bykans 2 180 varke kos hulle ongeveer R32 per kiloliter en boonop moet hulle vir die vervoer daarvan ook betaal.
"Slegs vir die week sal die water my bykans R2 000 kos, en dan het ek nog nie vir die vervoer betaal nie." Daar is voorgestel dat die Tolmans water teen 'n goedkoper prys by die suiweringswerke aankoop, maar Mariana het navraag gedoen en daar is aan haar gesê die water is nie geskik vir menslike gebruik nie. "Dan kan ek dit nie vir ons varke gee nie."
Mariana sê sy het nie afsluiting nie en het slegs geleer om met haar pyn en verlies saam te leef.
Mariana sê sy is moeg gesukkel. "Die seuns ook. Dit is 'n stryd en na die hofsaak kan ek nie vir jou juis sê dat dit beter gaan nie. Ons sit steeds met dieselfde vrae en ons het nooit antwoorde gekry oor wat presies daardie oggend met Freddie gebeur het, of hoekom nie. Ons sit ook steeds met die vrees. Elke dag. Die ou (Booi) het alles ontken, so nee, ek het nog nie berusting nie. Ons het so gehoop hy (Booi) sou praat."
Ligpunt
Die een ligpunt in die Tolmans se lewe is dat Mariana ouma gaan word. "Roelof en sy vrou verwag en die baba kom in Mei."
Sy wonder dikwels hoe Freddie die droogte se impak op die boerdery sou hanteer het. "Hy het altyd geweet wat om te doen en waar om te gaan baklei. Ons het nie die veggees wat hy gehad het nie. Hy het altyd vir alles 'n oplossing gehad," sê sy hartseer. Die feit dat die moordenaars nog op vrye voet is pla haar ook, elke dag.
Die moordbeskuldigde, Lamlani Booi het deurgaans ontken dat hy by die moord op Freddie Tolman betrokke was, al is hy skuldig bevind. Foto: Cornelle Carstens
"Ek het steeds hoop dat hulle vasgetrek sal word. Ek wil hê hulle moet gevang word. Dit vreet my op dat ek nie weet wat daardie oggend gebeur het nie. Ek sou so graag wou afsluiting kry."
Klik hier vir vorige artikels:
- Plaasmoord-verdagte skuldig
- Plaasmoord: man skuldig op 5 aanklagte
- Staat sluit saak in moord op boer
- Boer se moordsaak weer voor
- Boer se vermeende moordenaar in hof
- Vermoorde boer se vrou getuig
- Verdagte in plaasmoord in hof
- Plaasmoord: verdagte in hof
- Plaasmoord: 'n jaar later
- Boerse moord: "Ek mis hom elke dag"
- Opvolg: Nog geen arrestasie ná moord op boer
- Bekende boer sterf in plaasaanval
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'