Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die drie graad 10-leerders van Hoërskool Sao Bras wat onlangs vir 'n week in Johannesburg was is vir die verfilming van 'n televisievasvrakompetisie, is gekies omdat hulle as "TV-kinders" bestempel is. En dis die reine waarheid.
By Anniël Groenewald, Davene Anderson en Rhufieka Heunis ontbreek dit nie aan selfvertroue en spontaniteit nie. Dié jongklomp het deelgeneem aan 'n nuwe progam op DStv-kanaal 147, via naamlik Die Superskool.
Uit 51 inskrywings, waaronder ook 'n ander hoërskool in Mosselbaai, is hierdie driemanskap op grond van hulle video-aansoek gekies om aan die program deel te neem. Tien skole van regoor die land het uiteindelik aan die opnames deelgeneem. Sao Bras, die enigste plattelandse skool, was een van die vier skole wat die Wes-Kaap verteenwoordig het.
"Ons moes ons skool bemark en gesels oor die prestasies, ekstra aktiwiteite en oor die beroemde mense wat ons skool al opgelewer het," sê Rhufieka. Die drie kon beswaarlik glo dat hulle inskrywing gekies is. Meer nog as die opwinding van 'n televisie-opname saam met die gewilde Afrikaanse sanger Snotkop, was die feit dat dit al drie se eerste keer op 'n vliegtuig sou wees, groot nuus.
Anniël Groenewald, Davene Anderson en Rhufieka Heunis saam met Debbie Jeffrey tydens hulle onderhoud met die Mossel Bay Advertiser die week. Hulle het deelgeneem aan 'n televisie-opname in Johannesburg vir DStv-kanaal 147.
Enigste graad 10-groep
Tydens die program, word verskeie speletjies gespeel waartydens die spanne van verskeie skole teen mekaar meeding. Rhufieka sê hulle was glad nie eens op hulle senuwees nie. Sy het haar net verbaas aan hoe hulle grimering tydens die verfilming, omtrent elke 10 minute opgeknap is. Davene het haar weer verstom daaraan dat soveel dinge binne die klein ateljeeruimte kan gebeur. "Ons het gaan kyk na daar waar hulle die program aanmekaarsit. Sjoe, al daardie baie drade sal my kopseer gee."
Anniël sê die hele klomp deelnemers het sommer dadelik lekker met mekaar gesels op stel en nuwe vriendskapsbande is gesmee.
Wat die drietjies se deelname besonders maak, aldus Debbie Jeffrey, die opvoeder wat hul vergesel het, is dat hulle uit al die deelnemers die enigste graad 10-groep was.
"En hulle het hulleself gehandhaaf teen groot skole soos Bloemhof, Eldoraigne, Menlo Park en Merensky" spog sy.
Wat was die lekkerste ding? "Om al die nuwe mense te kon ontmoet," sê hulle in 'n koor.
En wat sou hulle anders wou doen? "Langer bly," praat die drie weer uit een mond.
Die eerste episode van Die Superskool word uitgesaai op 4 September. Dit is ook die episode waartydens die Sao Bras-groep te siene sal wees.
Op die stel van Die Superskool. Sanger en aanbieder Snotkop (voor) saam met die deelnemers, Voor, onderskeidelik tweede en derde van regs, is Davene Anderson en Rhufieka Heunis van Hoërskool Sao Bras.
Kyk 'n video hier:
ARTIKEL, VIDEO & FOTO'S: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'