Update
MOSSELBAAI NUUS - Die drie provinsiale verkeersbeamptes wat in 'n kettingbotsing op Saterdag, 18 Junie op die R328 naby Sonskynvallei betrokke was, het al drie ernstige beserings opgedoen.
Een van die verkeersbeamptes is steeds in die waakeenheid van 'n hospitaal op Mosselbaai.
Die beserings sluit in 'n gebreekte pelvis en 'n beseerde oog.
'n Volkswagen Polo met drie insittendes was ook in die botsing betrokke. Die drie insittendes het geen beserings opgedoen nie en het glo ongeskonde uit hul voertuig geklim.
Intussen verskyn 'n 26-jarige man vandag, op Maandag, 20 Junie in die Mosselbaai-landdroshof op 'n aanklag van roekelose-en-nalatige bestuur. Die botsing het om ongeveer 20:00 plaasgevind.
Volgens 'n betroubare bron het die drie verkeersvoertuie die Volkswagen vir etlike km's op 'n hoë spoed agterna gesit. Daar word beweer dat die bestuurder van die Volkswagen glo skielik remme aangeslaan het, wat 'n kettingbotsing tot gevolg gehad het.
‘n Inwoner van Sonskynvallei wat op die toneel was het aan die Mossel Bay Advertiser gesê die toneel was oor etlike meters versprei.
Hoof van die Provinsiale Verkeersdepartement op Mosselbaai, Reinet Sarikakis wou nie die beamptes se identiteite bekend maak nie. "Ek wil hulle eers hul privaatheid gun en kans gee op herstel."
Die Da Gamaskop-polisie ondersoek ‘n saak van roekelose-en-nalatige bestuur.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'