MOSSELBAAI NUUS - Die Nedbank-drafklub (SWD) bied Saterdag, 20 Augustus, 'n Comrades-ontbyt en 'n 5km draffie aan om die litte los te maak vir die groot Comrades-ultramarathon wat op 28 Augustus, plaasvind.
Dit word ook gehou om die Comrades-deelnemers sterkte toe te wens en te bemoedig vir die lang pad wat voorlê.
Volgens Alta Zeelie, organiseerder van die drafklub, het die Covid-pandemie groot terugslae tot gevolg gehad vir deelnemers wat rekord wedlope en tye wou opstel.
Hierdie geleentheid is om hulle te bemoedig en pret te hê voor hulle vertrek vir die groot wedloop. Drawwers wat nie aan die Comrades gaan deelneem nie, is ook welkom.
Hulle name word in 'n hoed gegooi en deur 'n Comrades-deelnemer getrek. Dié persone kry dan die geleentheid om saam met die "best of the best" die 5km wedloop te voltooi.
Die Comrades-atlete kry elk 'n geskenkpak met 'n item daarin wat tydens die lang wedloop vir hulle betekenis kan hê.
Ná die wedloop kan almal op eie koste ontbyt by Hennies geniet wat ook die musiek verskaf en die watertafels tydens die 5km wedloop beman.
En as jy tydens die Comrades besluit dit is nou die tyd om te begin oefen, kan jy op Dinsdae vanaf 17:30 by Alta aansluit om fiks te raak. Kontak haar op 060 802 7585 vir verdere inligting.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'