MOSSELBAAI NUUS - Dominee Henri Meyer van Mosselbaai NG moedergemeente en sy seun, Lemar, het die afstand van 1 391km vanaf Thabazimbi tot in Mosselbaai per fiets afgelê om geld in te samel vir die mense in die noorde van Mosambiek wat vroeër vanjaar deur die orkaan Idai getref en haweloos gelaat is.
Hulle het baie wind, stof en koue ervaar, maar sonder ongevalle heelhuids in Mosselbaai aangekom.
Die afstand is oor agt dae in 45 uur afgelê. Die eerste dag was 'n lang 235km. Die kortste afstand was op die laaste dag en dit was 86km – so gereël om net na die kerkdiens in Mosselbaai aan te kom.
Die Moedergemeente is dankbaar vir al die ondersteuning van gemeentes en mense langs die lang eensame pad, vir borge wat ruimskoots bygedra het tot hierdie omgeeprojek en vir God wat sy bewarende hand oor die span gehou het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'