MOSSELBAAI NUUS - In die groter Mosselbaai word veral Hartenbos en Hartenbos Heuwels deur die Mosselbaai-polisie beskryf as brandpunte waar diefstal van sleepwaens en bromponies tans hoogty vier.
Adjudant-offisier Pieter Koekemoer, mediawoordvoerder van die polisie op Mosselbaai sê dat die diefstalle hoofsaaklik snags of in die vroeë oggend-ure gepleeg word.
"Sleepwaentjies en bromponies van die kleiner 125cc-kapasiteit wat in strate, op sypaadjies en selfs binne erwe sigbaar is, word geteiken. Kettings en slotte word eenvoudig afgeknip, sleepwaens word gehaak en bromponies word op bakkies gelaai en weggery," sê Koekemoer.
Volgens die polisie se rekords is ses sulke voorvalle gedurende Februarie en Maart aangemeld. Die eerste voorval was op 13 Februarie toe 'n sleepwaentjie in Swellendamlaan agter 'n skoolbussie afgehaak en weggesleep is.
Op onderskeidelik 27 Februarie en 11 Maart is 'n sleepwa in Elandslaagtelaan voor 'n huis en 'n ander een in Spioenkoplaan voor die motorhuis gesteel. 'n Sleepwa wat voor 'n huis in Kongolaan aan 'n ketting teen 'n lamppaal vasgemaak was, is op 20 Maart gesteel.
Op 24 Maart is 'n 125cc-bromponie langs 'n huis in Katjiepieringweg in Hartenbos Heuwels gesteel en die dag daarna is nog 'n 125cc-bromponie wat tussen twee voertuie in 'n erf uit Oranjestraat geparkeer was, gesteel.
Volgens Koekemoer kan twee tot vier persone enige klein sleepwa of motorfiets optel en wegdra.
Wenke
- Moenie waardevolle voertuie, veral snags in die straat of sigbaar stoor nie.
- Parkeer waardevolle voertuie in 'n toesluit motorhuis.
- Sorg vir genoeg beligting om jou huis.
- Installeer alarms, CCTV-kameras en sluit by 'n sekuriteitsfirma aan.
- Laat waghonde buite slaap.
- Onthou dat slotte en ketting geknip kan word. Stoor items eerder in veilige plek.
- Hierdie diefstalle word goed beplan en kan dieselfde persone of 'n sindikaat wees.
- Let op na vreemde bewegings van persone in jou omgewing, dag en snags.
- Sluit aan by jou buurtwag.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'