MOSSELBAAI NUUS - Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), waarvan Deel I op 7 Mei 1951 verskyn het, is die grootste en enigste omvattende verklarende Afrikaanse woordeboek.
Hierin, word Afrikaanse in sy wydste omvang weerspieël. In hierdie fassinerende gids, wat 'n beplande 20 dele sal beslaan, vind jy Afrikaans in sy standaardvariëteit, maar ook ander variëteite soos Kaaps en Namakwalands in. Soek jy streektaal, geselstaal en ander uitdrukkings, is die WAT jou antwoord.
In 2003, het die elektroniese WAT verskyn. Dit is tans steeds die enigste verklarende Afrikaanse woordeboek wat op 'n selfoon beskikbaar is. Meer as 210 000 verklaarde trefwoorde is reeds opgeneem en die inligting is gebaseer op werklike taalmateriaal in 'n databank van miljoene optekeninge uit geskrewe en gesproke Afrikaans.
Na die drastiese afskaling van die staatsubsidie vanaf 2004, verseker 'n netwerk van donateurs dat die WAT steeds 'n produktiewe en dinamiese maatskappy is. Inisiatiewe soos Borg 'n Woord help verseker dat jaarliks meer as R4 miljoen geïn word ten einde die begroting te laat klop.
Borg 'n Woord
In Mosselbaai het die 'n groepie taalentoesiaste seker gemaak dat hulle ook hulle bydrae tot hierdie projek lewer. In November 2016, borg die Mosselbaai Skrywers- en Digtersvereniging die woorde "swarttobie" en "mossel".
"Ons het die woorde uit ons spaarvarkie gefinansier en was daarna vir ses maande bankrot. Ons wou woorde borg wat eie aan ons dorp is," berig stigter en "voorvatter" by dié besonderse groep, dr Jopie Coetzee.
"Hoe kan daar 'n Mosselbaai sonder mossels wees? Derhalwe het ons 'mossel' opgeëis as ons eie woord- en kultuurskat - hoe dan anders? Die 'swarttobie' is bedreig, eie aan die dorp en 'n vreugde om dop te hou."
Jopie verduidelik dat die borg van hierdie woord "'n emosionele besluit" was nadat die groep een van hulle lede, Eileen Jensen-Stenekamp se besonderse gedig, *Kusromanse met die liefde en swarttobie as sentrale temas aangehoor het.
Woord van die Week
Vroeër vandeesweek, het die hoofredakteur van die WAT, dr Willem Botha, 'n bekende stem vir RSG-luisteraars vanweë sy Vrydagoggendgeselsie op dié radiostasie, die Mossel Bay Advertiser gekontak om deel te word van 'n inisiatief waarin dagblaaie en ander koerante die Woord van die Week ook in die gedrukte media publiseer.
Lesers kan dus voortaan op die brieweblad gaan loer na hierdie inisiatief en op hierdie manier interessanthede aangaande Afrikaanse woorde, hulle herkoms en betekenis uitvind. Sien die brieweblad vir vandeesweek se Woord van die Week.
*Lees Eileen Jensen-Stenekamp se gedig, Kusromanse in die brieweblad.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'