MOSSELBAAI NUUS - Etlike miljoene rand is reeds spandeer op die opgradering van die De Bakke/Santos-woonwapark en -oord.
Dit blyk uit 'n verslag wat eersdaags voor die raad sal dien en Woensdag deur die raadskomitee vir beplanning en geïntegreerde dienste bespreek is.
Wanneer die beraamde opgradering afgehandel is, sal die Colloseum Hotel Management Company, die maatskappy wat die oord bestuur en bedryf, 'n geraamde R7.35m aan die opgradering van die fasiliteite bestee het.
Direkteure van die Colloseum-groep het onlangs geruime tyd by die fasiliteite spandeer om persoonlik toesig te hou oor die opgraderings en om 'n verdere bestekopname te doen van opgraderings wat steeds beplan en afgehandel moet word.
Die totale koste verbonde aan die opgraderings in fases 1A tot 1L beloop R2 933 935, terwyl verdere opgraderings in Fase 1M, wat in April afgeskop het en na raming teen November voltooi sal wees, 'n verdere R4 422 000 beloop.
Dit sluit in onder meer die voorsiening van behoorlike linne, kombuisware, selfs groot televisies in al die chalets, die vervanging van ondergrondse riool en waterpype, die opgradering en herbou van sekere dreineringsfasiliteite (french drains), die herstel van straatligte en die voorsiening van straatligte in die kampeerarea, en die herstel van die asfaltpaaie soos en waar nodig. Verskeie opgraderings is gedoen aan die elektrisiteitsvoorsiening van die onderskeie kampterreine vir die woonwaens of tente, asook herstelwerk en opgradering van die ablusiegeriewe.
Een van die ablusiegeriewe, die opsigterswoning en een van die chalets se dakke is vervang en uitgebreide herstelwerk is gedoen. Binne die chalets is ook uitgebreide opgraderings van onder meer krane, kaste en kombuisgeriewe gedoen.
In die opgraderingsfase wat nou sal volg, word alle chalets binne nuut uitgeverf en word die meublement van 22 chalets vervang. Hierbenewens sal nog 'n ablusiegerief in De Bakke opgegradeer word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'