Update
MOSSELBAAI NUUS - Enkele ure na 'n Danabaai-inwoner (67) op Vrydagoggend, 26 Oktober om omstreeks 06:30 deur twee onbekende mans oorval, aangerand en beroof is, is die verdagtes deur die KwaNonqaba-polisie gearresteer en feitlik al die slagoffer se gesteelde besittings is teruggevind.
Die vrou, wat alleen woon, was in haar huis toe die mans haar van agter oorval het.
Die slagoffer, 'n vrou wat nie geïdentifiseer wil word nie, het aan die Mossel Bay Advertiser vertel dat sy vroegoggend beplan het om haar motor met die tuinslang af te spuit en 'n paar plante nat te lei.
Sy was egter binne haar huis met haar selfoon besig toe 'n man wat sy as 'n korter persoon beskryf, haar onverwags hard van agter gestamp en oorrompel het. "Hy het my met 'n vuurwapen gedreig. 'Ek gaan jou doodmaak, ek gaan jou skiet,' het hy herhaal." Dié man het lappe om sy gesig gedraai om sy identiteit te beskerm.
Daarna het 'n langer persoon wat sy gesig met 'n klapmus bedek het, hom by die korter man aangesluit. Die langer man was met 'n groot slagtersmes gewapen. Beide die mans het hoodies, bostukke met kappies, gedra en het rugsakke by hulle gehad. "Waar is jou geld, gee ons die geld," het hulle geëis.
Die slagoffer het vir 'n oomblik gedink sy kan haar aanvallers ontsnap, maar toe het die mans die deur toegemaak.
"Die mans het oorwegend Afrikaans gepraat. Hulle het my by die motorhuis ingeforseer en op my knieë gedwing. Hulle het 'n tou van 'n implement in die motorhuis afgehaal om my hande vas te bind en het 'n T-hemp om my gesig gedraai en vasgebind." Die veters van die slagoffer se skoene is ook vasgebind.
Die korter man was deurentyd by haar in die motorhuis en het haar selfs op 'n stadium in opdrag van die langer persoon gewurg. Die langer man het deur die huis na waardevolle items gesoek.
"Die verdagtes het ontvlug met onder meer juwele, 'n selfoon, skootrekenaar en kontant. Die slagoffer kon om omstreeks 07:00 daarin slaag om haarself te bevry en het by bure om hulp aangeklop. Die bure het die polisie ontbied," aldus die KwaNonqaba-polisie se woordvoerder, sers Kapp.
"Ek het een keer in die huis probeer skree, maar het gou besef ek moet liewer stilbly. Ná die aanvallers weg is het ek net geskree, amper dierlik geskree."
Verdagtes vas
Sersant Kapp bedank die gemeenskap vir die waardevolle inligting wat daartoe gelei het dat die verdagtes binne sowat ses uur na die voorval gearresteer is.
"Die KwaNonqaba polisielede sers Vaas en reserviskonstabel Donovan Duitsjan, bygestaan deur die bevelvoerder van die ondersoekeenheid kapt Ashley Michaels en ondersoekbeamptes ao Marius Swanepoel, sersante Kekaza en Ndala en ander lede van die polisie het die verdagtes in Aslapark opgespoor en gearresteer. Die polisie het die vrou se juwele, selfoon en skootrekenaar in besit van die verdagtes gevind, maar soek steeds na die vuurwapen wat in die voorval gebruik is," aldus sers Kapp.
Die tenger slagoffer woon etlike jare reeds in Danabaai hoewel sy onlangs binne die woonbuurt verhuis het. Sy vertel dat die polisie die verdagtes kon verbind met 'n persoon wat per toeval kort tevore tuinwerk by haar gedoen het, hoewel hy nie een van die persone was wat haar aangeval het nie.
Die twee verdagtes het haar met 'n voorwerp in die gesig geslaan en sy het gesigbeserings asook kneusbeserings aan haar ribbes opgedoen.
Sy is nie vir haar beserings gehospitaliseer nie, maar is op die toneel deur ambulanspersoneel behandel. Sy het wel later doktersbehandeling ontvang.
Die KwaNonqaba-polisie, sers Ndala, ondersoek 'n saak van huisroof. Die beskuldigdes op Dinsdag, 30 Oktober in die Mosselbaai-landdroshof voor landdros Cliffton Maseti verskyn.
Hulle bly in aanhouding tot komende Dinsdag wanneer hulle 'n formele borgtogaansoek sal bring.
Lees vorige artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'