HARTENBOS NUUS - Die beheerligaam van Laerskool Hartenbos het vroeër die week opdrag gegee dat dagvaardigings van agterstallige skoolgeld wat aan ouers van Sonskynvallei uitgedeel is, tydelik deur die prokureursfirma wat die skool verteenwoordig teruggetrek word.
Dit volg nadat sowat 20 ouers van Sonskynvallei in Desember 2022 dagvaardigings van R10 500 vir agterstallige skoolgeld ontvang het.
Volgens Tommie Jacobs, een van die ouers en ook die woordvoerder van die Sonskynvallei Equal Education komitee, was hulle baie geskok toe 'n persoon net die dagvaardigings afgelaai het en na bewering geen verduideliking gegee het dat hulle binne 10 dae in die hof moes wees om dit teen te staan nie.
Volgens die voorsitter van die beheerliggaam, Anton Gildenhuys moet ouers wat dit nie kan bekostig om skoolgeld te betaal nie, 'n aansoek invul wat dit ondersteun.
"Wetgewing verplig ons om aansoeke vir kwytskelding in te dien, anders kry ons ook nie finansiële hulp van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement vir daardie aansoeke nie. Ons het vir die 2022 skooljaar 205 aansoeke vir kwytskelding ontvang en verwerk, 22 leerders se ouers is oorhandig wat geen aansoeke om kwytskelding ingedien het nie."
Verwarring
Volgens Jacobs is daar verwarring onder ouers, omdat al die banke op die vorm aangedui word en hulle geglo het hulle by elke bank bewys moes kry dat hulle nie 'n bankrekening daar het nie.
Gildenhuys sê ouers hoef slegs drie maande se state van hul eie bank voor te lê en as hulle geen bank het nie, moet hulle 'n polisieverklaring aflê wat die inligting staaf.
Volgens Jacobs voel hierdie ouers nie welkom by die skool nie. "Ons voel skaam om die skool te besoek en sportdae by te woon, omdat ons nie die skoolgeld kan bekostig nie."
Gildenhuys het beklemtoon dat Laerskool Hartenbos die kinders van Sonskynvallei betrek en dat daar nie diskriminasie is nie. "Daar is wonderlike kinders met baie talente wat van Sonskynvallei kom en ons is dankbaar dat hulle deel is van ons gemeenskap.
Ons o/13-rugbykaptein van 2022 kom uit die Sonskynvallei gemeenskap.
Ek doen 'n beroep op ouers wat steeds ongelukkig is om my te kontak."
Die komitee het 'n voorstel gemaak dat die kwytskeldingreëls by die gemeenskapsaal in Sonskynvallei aangebring word en dat die kwytskeldingsvorms daar beskikbaar gestel word waar dit met die hulp van die kantoorbeampte ingevul kan word en aan die skool oorhandig word.
Volgens Gildenhuys is dit 'n opsie waarna daar gekyk word, ook met 'n polisiebeampte wat beëdigde verklarings kan afneem.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’