MOSSELBAAI NUUS - Die dwelmeuwel onder gemeenskappe kan kwalik geïgnoreer word.
Hoewel baie gesinne ly onder hierdie euwel, is daar hulp en ondersteuning in die vorm van Kwanele, 'n ondersteuningsgroep vir verslaafdes, gerehabiliteerdes en hulle geliefdes.
Kwanele is in 2006 gestig deur 'n groep gerehabiliteerde verslaafdes. Kwanele is 'n Nguni-woord wat beteken "genoeg is genoeg".
Aanvanklik was die doel van die organisasie om te dien as 'n bewusmakingsveldtog om middelafhanklikheid te voorkom deur persoonlike stories te deel, eerder as om ingryping te bewerkstellig.
Op grond van die behoefte onder die gemeenskap, het Kwanele groter steun begin bied deur verslaafdes na rehabilitasiesentrums te verwys, ondersteuningsgroepe vir verslaafdes te fasiliteer en families wat deur verslawing geraak word, behulpsaam te wees.
Kwanele se missie is om te fokus op die voorkoming van verslawing, intervensie en verwysing, ondersteuning tydens rehabilitasie, asook om ondersteuning aan familielede te bied.
"Die oogmerk is om 'n gemeenskapsgebaseerde, nie-winsgewende organisasie te wees, wat aktief die effek van middelafhanklikheid in die gemeenskap teenwerk."
Kwanele hou 'n byeenkoms by die Holy Nativity-kerk in Uitbreiding 13 op 18 Maart vanaf 18:00-20:00.
Hierdie byeenkoms is spesifiek gemik op ouers met kinders wat met afhanklikheid en verslawing sukkel.
Navrae kan aan Setchmore Rhoodes gerig word (073 061 2138).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'