Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Bome en bosbou word reg deur September gevier en vandag, Donderdag 20 September, het die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, vergesel deur twee van sy uitvoerende raadslede, Niklaas Booisen en Anton Dellemijn, daad by die woord gevoeg en bome by die KwaNonqaba-gemeenskapsaal geplant.
Twee tipes bome, die wildepruim en waterbessie is op hierdie terrein geplant, hoewel verskeie ander bome op ander terreine, onder meer die nuwe begraafplaas as deel van die viering van boomplantmaand geplant is.
Personeel van die direktoraat gemeenskapsdienste het darem vooraf die gate vir die plant van die bome voorberei, maar die raadslede het fluks self die boompies in die grond gekry en die gate toegegooi.
Boonop het hulle seker gemaak dat die bome fier en reguit geplant is.
Kyk 'n video hieronder.
Te midde van groot glimlagte is 'n waterbessieboom op Donderdag, 20 September in KwaNonqaba by die gemeenskapsaal deur die uitvoerendeburgemeester, raadsheer Harry Levendal en raadslid Niklaas Booisen geplant. Raadslid Anton Dellemijn en munisipale personeel asook besoekers kyk toe.
Personeel van die munisipaliteit se afdeling gemeenskapsdienste verduidelik aan die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal en raadslede Anton Dellemijn en Niklaas Booisen die voordele van die waterbessieboom wat hulle by die KwaNonqaba-gemeenskapsaal geplant het.
Raadslid Anton Delleijn plant een van die vinnig-groeiende waterbessiebome by die KwaNonqaba-gemeenskapsaal. Daar is ook 'n paar wildepruimbome geplant, juis ter wille van skaduwee.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'