MOSSELBAAI NUUS - Die toekoms van die regbank in Suid-Afrika is in goeie hande. Dit is onder meer een van die insiggewende stellings gemaak tydens die bekendstelling van oud-regsgeleerde, Gustaf Pienaar se boek, Regsalmanak – 100 stories uit ons regserfenis, wat vandeesweek op Vleesbaai plaasgevind het.
Pienaar, tans 'n inwoner van Vleesbaai, het 25 jaar lank op George gepraktiseer as prokureur. Sedert 2012 was hy 'n advokaat van die Hooggeregshof in Kaapstad. Pienaar se skryfwerk is gereeld aanlyn te siene op LitNet, asook in Die Burger en Rapport Weekliks.
Uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting, dr Theuns Eloff, het die gesprek oor Pienaar se boek gelei. Pienaar se boek is deur dr Eloff as boeiend en humoristies beskryf, juis omdat die lewe in al sy fasette, hom dikwels in die howe uitspeel.
Drie kernvrae is deur dr Eloff gestel aan die hand van die inhoud van Pienaar se boek. Dit het ingesluit hoe die reg gevorm word, die objektiwiteit van howe en die regstelsel as 'n oppergesag soos erken deur die Suid-Afrikaanse grondwet en die verwysing van politieke geskille na die howe.
Pienaar het tydens die gesprek uitgewei oor die ryk erfenis van die Suid-Afrikaanse regstelsel en hoe dit steeds dinamies ontwikkel, veral vanweë onder andere die inheemse reg wat ook gereeld teen die grondwet getoets moet word. Hy het ook kommentaar gelewer oor verrassende, opspraakwekkende uitsprake, soos die wettiging van dagga en watter invloed hierdie beslissing kan hê op toekomstige uitsprake aangaande byvoorbeeld die toepassing van lyfstraf.
In die lig van die immer relevante kwessie aangaande kwetsende uitlatings, het dr Eloff verwys na hoe maklik dit kan gebeur dat vryheid van spraak en haatspraak teenoor mekaar kan staan. Hy het gesê dat dit egter noodsaaklik bly dat Suid-Afrikaners, veral jongmense, nie moet wegskram vir robuuste debat vanweë 'n oorgevoeligheid vir politieke korrektheid nie. Gustaf Pienaar se boek, Regsalmanak – 100 stories uit ons regserfenis is uitgegee deur Protea Boekhuis.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'