MOSSELBAAI NUUS - Nic van der Westhuizen van Hartenbosheuwels, het verlede week 'n besonderse mylpaal bereik toe hy sy 325ste eenheid bloed in George geskenk het.
Volgens Van der Westhuizen, het hierdie besonderse prestasie hom 54 jaar en sewe maande geneem om te behaal. Hy is tans 72 jaar en drie maande oud en het in April 1968 begin bloedskenk.
"Ek het op Klerksdorp begin skenk tot op my 245ste eenheid." Sedertdien skenk hy bloed op George.
Hy meen dat om gereeld bloed te skenk nie net 'n opoffering vir sy medemens is nie, maar hom ook besonder gesond hou.
"Jy kan 'n eenheid skenk elke 56 dae tot op 70 dan een maal in drie maande. Dit is gesond om te skenk en ek daag die die jong mense uit om ditte verbeter. Alhoewel ek dit nie sal kan beleef nie, sal die geskiedenis daarvan getuig."
Nuwe veldtog
Bloedvlakke in die Wes-Kaap neig om gedurende die feesseisoen te daal. Een van die redes kan wees dat gereelde bloedskenkers met vakansie gaan en nie hul gereelde bloedskenkkliniek besoek nie. Covid-19 voeg steeds bykomende druk op die bloedvoorraad toe.
"Ons wil graag 'n beroep op alle geskikte bloedskenkers doen om bloed te skenk en so die grootste geskenk te gee deur tot 3 lewens te red", sê Marike Gevers, bestuurder van openbare betrekkinge by die Wes-Kaapse Bloeddiens (WKB).
Die WKB mik om 'n bloedvlak van ten minste 5 dae ten alle tye te handhaaf om sodoende aan die Wes-Kaapse behoeftes te voldoen.
Op 1 Desember is die, Ons het soveel om te gee-veldtog van stapel gestuur.
"Hierdie veldtog sal op ons sosiale media te sien wees. Video's van bloedskenkers word vertoon wat ander inspireer om bloed te skenk. Pasiënte wat bloed ontvang het bedank skenkers vir hulle besonderse daad in hierdie video's. Jy kan soveel meer doen as om te lewe. Jy kan lewens red", voeg Gevers by.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'