Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Wêreldheuningbydag word jaarliks op die derde Saterdag in Augustus gedenk. Dié dag is om almal aan te moedig om ons heuningbye te bewaar.
'n Ander belangrike deel van die dag is om oor heuningbye en hul omgewing te leer.
Belinda Meiring, hoof van Sandkasteel-kleuterskool het Jacque Stimie na die skool genooi om die jonges meer van by te vertel.
Die week se tema was bye. Ter afsluiting van hierdie tema, het die kleuters as bye aangetrek.
Fotogalery: Byeboere besoek Sandkasteel-kleuterskool
Die kleinspan was alte oulik in hulle bye-uitrustings.
"Ons kinders leer dat bye afhanklik is van die nektar van 'n verskeidenheid plante vir hul voortbestaan en daarom moet ons die natuur bewaar. Omgekeerd is ons ook afhanklik van heuningbye vir ons voortbestaan. Sonder bye se bestuiwingsvermoëns sou baie voedsame plante nie voortplant nie. Boonop is hul heerlike heuning 'n ekstra bonus," berig Meiring, na Stimie se praatjie.
Dis egter belangrik om te onthou dat heuningbye steek, maar slegs as hulle 'n bedreiging ondervind of hul korwe beskadig word. Aangesien hulle soet nektar soek, sal soet drankies en lekkers heuningbye aantrek as daar nie blomme is waarheen hulle kan gaan nie.
"As 'n heuningby naby kom, sit stil of beweeg stadig weg. Die heuningby sal na die volgende soet ding vlieg, solank dit nie bedreig voel nie."
Volgens Meiring was dit 'n besonderse ervaring vir die kleuters om te kon sien waar heuning vandaan kom.
"Hulle kon aan die korwe vat en proe aan vars heuning. Beslis 'n hoogtepunt vir die week."
Hierdie twee bytjies spog met hulle vlerkies.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'