Dawid Kriel (50), die neef van die Freysen-broers, George en Willem, wat in die Prins Albert-omgewing boer, is in 2007 ernstig in ‘n motorongeluk in die VSA beseer. Hy word tans daar in ‘n versorgingsoord versorg.
Volgens ‘n hartroerende e-pos van sy suster, Marissa van der Walt, ‘n Pretorianer, het Dawid ernstige breinbeserings opgedoen en is hy rolstoelgebonde. Hy het in die laat 80’s as rugbyafrigter Italië toe verhuis. Vandaar is hy deur ‘n klub in Seattle genooi om afrigting in Amerika te gaan doen. Hier het hy later ook ‘n loopbaan in die konstruksiebedryf gevolg. Hy is al 21 jaar daar.
Dawid was in die ongeluk ‘n dag ná sy pa se dood en vir Marissa was dit ‘n geweldige traumatiese tyd toe sy net ná die begrafnis Amerika toe is om haar broer te gaan besoek terwyl hy in ‘n koma was. Die dokters daar wou hê sy moes toestemming verleen dat sy lewensondersteuningsmasjiene afgeskakel word. Sy het geweier.
Dit was hartverskeurend toe sy hom moes agterlaat om terug te keer na haar twee seuns en ma in Suid-Afrika. Drie maande later het hulle egter die wonderlike nuus ontvang dat Dawid wakker geword het.
Hy is later oorgeplaas na ‘n rehabilitasiesentrum in Yakima, Washington waar hy van voor af leer loop, eet en lees het. Hy het ook spraakterapie ontvang, vertel Marissa.
‘Verdwyn’
Dawid het gereeld per telefoon met sy familie gesels, maar ewe skielik op ‘n dag net "verdwyn". Ná drie weke waarin hulle rasend van kommer was, het Marissa hom in ‘n versorgingsoord opgespoor. In die daaropvolgende jaar het Dawid erg agteruitgegaan en sedertdien is dit die familie se hartsbegeerte om hom terug te bring Suid-Afrika toe. "Hy is deesdae eensaam, gefrustreerd en depressief en leef net vir my ma se weeklikse brief wat sy getrou elke Sondag vir hom skryf," sê Marissa.
R100 000 nodig
Dit gaan die familie R100 000 kos aan reiskoste om Dawid huis toe te bring. Hy kan slegs eersteklas reis weens sy spesiale behoeftes en ‘n versorger sal hom moet vergesel. ‘n Eersteklasvliegkaartjie kos ongeveer R50 000.
Gholfdag
In ‘n poging om fondse in te samel, bied Marissa en haar man Tjaart op 15 November ‘n gholfdag aan by die Akasia Buiteklub-baan in Pretoria.
Die fondse wat hier ingesamel word, sal gestort word in die Dawid Kriel Hulpfonds wat hulle gestig het. Vir meer inligting oor inskrywingsfooie en borgskappe by die gholfdag, skakel Marissa by 083 299 6599 of Tjaart by 083 390 7898.
Mense wat kontantskenkings wil maak, kan hulle ook skakel.

Dawid en sy suster Marissa van der Walt toe sy hom besoek het na sy ongeluk.