MOSSELBAAI NUUS - Hy was tot op die einde nog positief en het ten spyte van sy kankerstryd, steeds nougeset by sy besigheid betrokke gebly, vertel Melinda van Greunen van haar man Hennie (54), wat verlede Donderdag oorlede is.
Hennie, wat jare lank verbonde was aan die korrektiewe dienste, is in die Life Bay View privaat hospitaal oorlede op 21 November.
Hy is verlede jaar in November met kanker gediagnoseer. In Mei 2018 het hy afgetree. Hy was aan die stuur van sake in die spysenieringsafdeling van die Mosselbaai korrektiewe jeugsentrum.
Mosselbaaiers sal Hennie, oorspronklik van Oudtshoorn, dalk die beste onthou vir sy uitstekende spitbraaie. Hy en Melinda is in 1992 op Mosselbaai getroud, toe hy reeds by korrektiewe dienste op die dorp gewerk het. Saam met die egpaar jarelank spyseniering vir funksies gedoen.
"Hennie het altyd gespot en gesê dis eintlik hy wat my leer kook het," vertel Melinda. Sy sê kosmaak was sy passie. "Hy was lief vir kos en 'n lekker kuiertjie."
Sy droom was om 'n restaurant van sy eie te hê. Dít is verwesenlik toe hy Four Cousins Bar & Bites in Da Nova begin het. Melinda sê dat hy, alhoewel hy die laaste maand of wat nie meer self by die restuarant kon wees nie, sake nougeset vanuit die huis dopgehou het op die bestuur se WhatsApp-groep.
Melinda en die seuns sal voortgaan met die spysenieringsonderneming en ook met die bedryf van die restaurant.
Hennie laat sy vrou en twee volwasse seuns, Henrico en Reinhardt, agter.
Sy roudiens is môre, Saterdag 30 November, om 11:00 vanuit die NG Suid-gemeente, Mosselbaai.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'