Update
MOSSELBAAI NUUS - Die twaalf bejaarde inwoners van die ACVV tehuis, Onse Rus op Mosselbaai wat onlangs positief getoets het vir Covid-19 sterk tans goed aan in die Covid-19 saal by die tehuis.
Vier werknemers van die tehuis wat ook positief getoets het, is steeds in isolasie en hulle familie het negatief getoets vir die virus. Die tehuis wag nog op een uitslag van een van die families van ‘n werknemer wat positief is.
Die tehuis se bestuur het asem opgehou nadat ‘n bejaarde vrou hospitaal toe gestuur is nadat sy verdagte simptome gehad het. Sy is by die hospitaal positief getoets vir Covid-19 waarna al die personeel en inwoners ook laat toets het. Nasionale bestuurder (ouer persone) van die ACVV, Lucia Smuts, sê die inwoners doen baie beter as wat hulle verwag het.
"Nie een van hulle benodig tans hospitalisasie nie." Bestuurder, Amanda Prinsloo sê hulle is oorweldig deur die gemeenskap se ondersteuning. "Mense bel ons, mense bid vir ons, kerke het ons ook gekontak en het ons op hulle gebedslys geplaas. Mense het skenkings gemaak en apteke het vir ons afslag gegee op medikasie. Graag wil ek alle eer aan die Here gee. Hy dra ons deur hierdie tyd. My personeel daag op vir werk. Ek is trots om deel van hulle span te wees."
Volgens Prinsloo gaan dit tot dusver goed met die personeellede wat in isolasie is. "Hulle word goed versorg en ons is daagliks met hulle in kontak."
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'