MOSSELBAAI NUUS - Twaalf bejaarde inwoners van die ACVV tehuis, Onse Rus op Mosselbaai het positief getoets vir Covid-19.
Vier werknemers van die tehuis is ook positief getoets.
Bestuurder, Amanda Prinsloo sê ‘n bejaarde vrou is verlede week hospitaal toe gestuur nadat sy verdagte simptome gehad het. “Sy is by die hospitaal positief getoets vir Covid-19 waarna ek al ons personeel en inwoners ook laat toets het.”
Prinsloo sê sy het die uitslae Vrydag ontvang. “Ons het onmiddelik twee sale oopgemaak en dit in Covid-19 sale omskep. My personeel wat bereid is om met die covid-19 pasiënte te werk, is nou daar in diens. Die personeel wat nie kans sien nie, werk in die res van die tehuis.”
Prinsloo sê hulle het alle protokol gevolg. “Die bejaardes wat positief getoets het, het geen simptome gewys nie, maar intussen het van hulle simptome van Covid-19 getoon. Ons monitor die situasie en hou die familie op hoogte.”
Prinsloo sê hulle het gedoen wat hulle kon om almal teen die virus te probeer beskerm.
Sy sê alle kamers waarin die positiewe gevalle was, is intussen gedisinfekteer.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'