Update
MOSSELBAAI NUUS - 'n Twee-en-dertigjarige inwoner van Mosselbaai, Jean-Pierre (Boom) Oosthuizen word op Vrydag, 27 Julie om 11:00 vanuit die NG Moedergemeente op Oudtshoorn begrawe nadat hy Saterdag, 14 Julie, enkele dae ná 'n bakleiery by 'n plaaslike kuierplek, by sy huis in Twee Kuilen, Diasstrand, dood aangetref is.
Oosthuizen, wat op Oudtshoorn grootgeword het, was verlede Woensdagaand in 'n voorval by 'n restaurant op Mosselbaai betrokke waartydens hy aangerand is. Videomateriaal van die voorval wat op sosiale media versprei is wys hoe Oosthuizen en nog 'n persoon by 'n kroegtoonbank in 'n argument betrokke is voordat die vuisslanery begin.
Die geveg is, na wat verneem word, buite die restaurant voortgesit en die moontlikheid dat meer mense by die voorval betrokke kon wees, word ondersoek.
Hospitaal
Volgens die woordvoerder van die Life Bay View privaat hospitaal, Elzaan Moelich, is Oosthuizen op Woensdagaand, 11 Julie om 23:45 vir beserings in die hospitaal opgeneem en op Vrydag, 13 Julie om 08:40 ontslaan. Oosthuizen is egter die volgende dag by sy huis dood aangetref.
Volgens ingeligte bronne het kennisse Saterdag by sy huis in Twee Kuilen na hom gaan soek en deur die gordyn van sy huis gesien dat hy op die trappe sit. Hy het egter volgens die bron nie reageer nie, waarna die polisie gekontak is. Dit is later bevestig dat hy dood is.
Intussen is 'n dossier vir 'n geregtelike doodsondersoek deur die Da Gamaskop-polisie geopen, terwyl 'n saak van aanranding met die opset om ernstig te beseer deur die Mosselbaai-polisiestasie ondersoek word.
Jean-Pierre (Boom), sy stiefpa Hugo Westraad en sy ma, Ina.
'n Nadoodse ondersoek het bevestig dat die oorsaak van Oosthuizen se dood weens die effek van 'n hou of houe met 'n stomp voorwerp is.
Die saak van aanranding met die opset om ernstig te beseer kan gevolglik na 'n klag van moord verander word, hangende verdere verklarings, waarna die nasionale vervolgingsgesag dan 'n beslissing sal gee.
Die Mosselbaai-polisiewoordvoerder, ao Pieter Koekemoer sê niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
"Mense moenie tot gevolgtrekkings probeer kom terwyl die polisie die saak nog ondersoek nie. Die aanklag moet eers ondersoek word na aanleiding van die verklarings, waarna 'n arrestasie kan volg."
Familie
Oosthuizen se stiefpa, Hugo Westraad, het op Woensdag, 18 Julie aan die Mossel Bay Advertiser gesê Oosthuizen se ma, Ina word in 'n hospitaal behandel omdat sy "ingegee het" na haar seun se dood. Hugo en Ina woon in Port Elizabeth en Oosthuizen se pa, Ian werk in Irak. Oosthuizen het ook tweelingbroers, Daniël en Hannes wat 30-jaar oud is.
Jean-Pierre het vir 'n geruime tyd in Irak gewerk.
Westraad sê Oosthuizen het nie ten tye van sy dood gewerk nie, maar het gereeld in die gimnasium geoefen. "Hy het ook vir 'n tyd in Irak gewerk." Westraad sê Oosthuizen het die bynaam "Boom" gekry by die landbouskool, Oakdale waar hy skoolgegaan het.
"Boom het na die voorval vir sy ma gesê dat die dokter gesê het hy kan huis toe gaan, maar dat hy hom stil moet gedra. Hy was 'n slim kind en sy ma se hele wêreld het om hom gedraai. Ons wil net hê geregtigheid moet geskied."
Die Mossel Bay Advertiser het Oosthuizen se oupa aan vaderskant gekontak vir kommentaar oor sy kleinseun se dood. Teen druktyd is daar egter geen terugvoering ontvang nie.
Jean-Pierre (Boom) Oosthuizen.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'