MOSSELBAAI NUUS - Nooddienste was vanoggend omstreeks 06:45 na Laerskool Park ontbied waar ‘n Mosselbaai-geregistreerde wit Isuzu dubbelkajuitbakkie die pad verlaat het en teen die wal afgery het en op die tennisbaan, wat ook as netbalbaan gebruik word, beland het.
Mediese personeel was spoedig op die toneel om hulp te verleen aan die bestuurder van die bakkie.
Volgens die 59-jarige bestuurder het hy tydelik sy bewussyn verloor. Hy het sy linker skouer, linker arm en nek beseer en is na die Bayview hospitaal geneem vir behandeling. Geen ander persone is tydens die voorval beseer nie.
Die oorsaak van die ongeluk is ook nog onbekend en 'n klag van roekelose en natalige bestuur is geopen en word deur die Mosselbaai polisie ondersoek.
Aansienlike skade is aan die baan se oppervlak aangerig en die paal en tennisnet het in die slag gebly.
Die bestuurder van die wit Isuzu dubbelkajuitbakkie word hier op die toneel deur paramediese personeel behandel.
Die sowat twee meter hoë wal in die agtergrond waar die besuurder afgery het en op die baan te lande gekom het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'