MOSSELBAAI NUUS - Die ontvoering van die sesjarige Amy'Leigh de Jager het die land verlede week aangegryp. Amy'Leigh is voor haar skool in Vanderbijlpark uit haar ma se hande gegryp en in 'n wit Toyota Fortuner ingetrek.
Haar vermeende ontvoerders het 'n losprys van R2 miljoen geëis, maar het haar na 18 uur se aanhouding in 'n gevaarlike straat in Vanderbijlpark afgelaai. Weldoeners het haar gevind en na 'n polisiekantoor geneem. Intussen het Tharina Human (27), 'n graad RR-onderwyseres van die skool, Laetitia Nel (40) en Pieter van Zyl (50) op aanklagte van ontvoering in die hof verskyn. Hulle sal weer op 19 September formeel om borgtog aansoek doen.
Amy'Leigh se oumagrootjie, Ria van der Walt (62) woon op Hartenbos en werk by die Hartenbos-versorgingsoord se haarsalon.
Sy sê Amy'Leigh en haar gesin het in Desember vir haar kom kuier. Amy'Leigh is Ria se oudste dogter se kleinkind. "Dit was vir my verskriklik traumaties, die oproep dat sy weg is was vreesaanjaend en ons is net so dankbaar dat Amy'Leigh veilig en ongedeërd is."
Ria sê die De Jagers ontvang berading en dat dit onder omstandighede met hulle goed gaan. "Ek gaan kuier meer gereeld by hulle as hulle by my. Ek is net ewig dankbaar sy is veilig en dankie vir almal se gebede."
Amy'Leigh de Jager.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'