MOSSELBAAI NUUS - Die spelers in Vergeet my nie, wat tans aanlyn en in rolprentteaters gesien kan word, sal einde Desember die strande in en om Mosselbaai besoek om met feesgangers te gesels en die film bekend te stel.
Mardaleen (Marguerite van Eeden), 'n gekultiveerde student, vasgekeer in die klein dorpie Potchefstroom, smag na die liggies en kultuur van Londen. Na die aaklige verbrokkeling van haar verhouding, pak sy haar tasse en vertrek na haar droomstad saam met haar beste vriendin, Lara (Kenley Swart).
Hulle bly in Huis Konettie, saam met vyf ander Suid-Afrikaners wat in Londen werk. 'n Onverwagse romanse ontstaan tussen Mardaleen en haar Namibies-gebore huismaat, Hugo (Sean-Marco Vorster). Dit voel te goed om waar te wees en die oomblik wanneer dinge te ernstig raak en nie heeltemal verloop soos sy beplan nie, laat sy haar onsekerhede en vrese oorspoel in haar verhouding in. Sy hardloop weg en gaan huis toe.
Hulle romanse vlam weer op wanneer hulle twee jaar later ontmoet, gevolg deur 'n uitnodiging van Hugo aan Mardaleen om vir hom in Namibië te gaan kuier. Haar naweek in Namibië ontaard in 'n nagmerrie. Afgesien hiervan, vra Hugo haar om te bly en om 'n nuwe lewe saam te bou, maar sy het ander planne en is hardkoppig. Met regie deur André Velts en Marius de Nysschen as kinematograaf, sluit die rolverdeling onder andere in Marguerite van Eeden, Sean-Marco Vorster, Kenley Swart, Amalia Uys, Pietie Beyers, Elani Dekker, Rick Strauss, Leché Joubert, Fiona Ramsey, Arno Greeff en vele meer. Vergeet my nie is die nuutste film van The Film Factory, in samewerking met Huisgenoot en kykNET Films, en word uitgereik deur Filmfinity (Edms) Bpk.
Hulle gaan die volgende strande besoek:
- 27 Desember: Gouritsmond, Vleesbaai, Danabaai, Klein Brak en Groot Brak.
- 28 December: Diasstrand.
- 31 December: Hartenbos
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'