Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - As deel van AfriForum se Veg- en Bouweek wat vandeesweek op Mosselbaai aangebied word, is die kwessie van boeliery wat deesdae algemeen onder jonges voorkom aangespreek.
Leandie Bräsler het met leerder by Hoërskool Punt gesels veral met die fokus op kuberafknouery wat ‘n wrang realiteit geword het.
Sy het ouers gemaan om te let op hulle kinders se gedrag ten einde te bepaal of hulle moontlik die teiken van boeliery kan wees. “Kyk na gedragsverandering. Die verandering in eet- en/of slaappatrone gee dikwels ‘n goeie aanduiding.”
Bräsler het uitgestip dat kuberafknouery volwasse gevolge en nagevolge kan hê en daarom moet jonges gesensiteer word hieroor. Sy het ouers ook herinner aan hulle verantwoordlikheid om kennis te neem van wat op hulle kinders se selfone gestuur en ook ontvang word.
Alan Bailey het die Dink of Sink onvoorbereide debatskompetisie bekendgestel. Die kompetisie bestaan reeds sedert 2017. “Ons is opgewonde om ‘n uitdun hier in die Suid-Kaap te vestig.” Die kompetisie se finale ronde vind jaarliks in Pretoria plaas.
“Die kompetisie leer kinders belangrike vaardighede soos om te kan redeneer, op hulle voete te kan dink en met selfvertroue en oortuiging te kan kommunikeer. Dis vaardighede wat jy oral in die wêreld kan gebruik of jy nou om werk aansoek doen of iemand vra om met jou te trou.”
VIDEO: AfriForum gesels boelies op Mosselbaai
Tania de Kock, lewensafrigter by Hoërskool Punt, het die aanbieding verwelkom en meen dat die leerders allerwee daarby baat gevind het.
Vandag se program sluit af met ‘n veiligheidsberaad wat in Hartenbos gehou word. Deelnemers sluit in is dr Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, dr Theo de Jager, uitvoerende direkteur van SAAI, genl Roland de Vries en Raymond Hohls van AfriForum-gemeenskapsveiligheid.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'