MOSSELBAAI NUUS - 'n Aardwolf (Proteles cristatus) is verlede week in Aalwyndal, Mosselbaai doodgery. Aardwolwe is nie baie bekend onder die algemene publiek nie.
Hier is 'n paar interessante feite oor die aardwolf wat glad nie 'n wolf of 'n jakkals is nie.
Die aardwolf word ook erdwolf of maanhaarjakkals genoem. Hulle is soogdiere en karnivore (vleisetend) en van die Hyaenidae-familie.
Die aardwolf word tans as 'n hiëna geklassifiseer.
Hulle kom oral in Suider-Afrika voor en verkies grasland of bossieveld, waar miershope voorkom en kom selde of nooit in woestyn en woude voor nie.
Hulle word maar baie min in ons omgewing opgemerk aangesien hulle meestal in die nag hulle gunsteling gereg soek wat hoofsaaklik termiete en miere is. Ander disse veral in die winter as termiete en miere skaars is, is insekte, voëleiers en grondvoëltjies.
Die Trinervitermes-termiete wat veral snags bedrywig is in die somer hulle prooi. In die winter raak hulle besig van laatmiddag af, aangesien die Hodotermes-termietgroep dan aktief raak.
Hulle spoor termiete op met behulp van reuk en klank, en termiete word van die gebreekte miershoop of grondoppervlakte af opgelek met 'n klewerige tong.
Mannetjies en wyfies is dieselfde grootte en het 'n gemiddelde lengte van 91 cm, met 'n gemiddelde stertlengte van 23 cm. Die gemiddelde aardwolf het 'n skouerhoogte van 50cm en kan tussen 7.5 en 10kg weeg.
Aardwolfpaartjies
Hulle skuil in gate wat oorspronklik deur springhase of erdvarke gemaak is. Hoewel 'n aardwolfpaartjie dieselfde gebied (van tussen een en vier vierkante kilometer) bewoon, slaap en eet hulle apart.
Betreders van hulle gebied word aangeval en weggejaag. Hulle merk hul gebied deur die afskeiding van talg vanuit anuskliere, wat 10 – 20 keer per kilometer geskied.
Die dag se aktiwiteite begin deurdat die aardwolf mis en urineer op 'n mishoop wat spesifiek vir daardie doel opgebou word. Tot 10% van die dier se liggaamsmassa kan op 'n slag so uitgeskei word.
Om hulself te beskerm, maak hulle daarop staat dat hulle baie soos hiënas lyk, en hulle kan deur hulle hare op te pof, tot twee keer groter as hulle normale grootte voorkom.
Hulle word dikwels deur roofdiere gevang. Hulle kleintjies word veral deur rooijakkalse gevang.
Aardwolwe hou geen bedreiging vir mense in nie en is eerder 'n aanwins vir die omgewing deurdat 'n aardwolf tot 300 000 termiete per nag kan verorber.
Hulle word egter gereeld doodgery aange-sien die ligte van voertuie hulle verblind en hulle lomp en stadig is. Vir baie meer inligting oor die aardwolf kyk gerus op Wikipedia.
Die hartseertoneel waar 'n aardwolf in Aalwyndal doodgery is. Foto: Luc Prinsloo
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'