Update
GROOTBRAK NUUS - 'n Mansonderwyser van Groot-Brakrivier het op Dinsdag, 26 September in die landdroshof op Groot-Brakrivier verskyn op 'n aanklag van aanranding.
Volgens polisie het die verdagte na bewering 'n 11-jarige leerder voor die res van die klas geslaan en gewurg. Polisiebeamptes van die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe op Mosselbaai het die onderwyser twee weke na die voorval in hegtenis geneem.
Volgens 'n polisiewoordvoerder, sersant Chantel Marais, het die voorval by die Groot-Brakrivier Primêre Skool gebeur.
Marais sê die graad 6-leerder het aan die polisie gesê dat die onderwyser hom met 'n rottang in die klaskamer voor ander leerders geslaan het.
Volgens Marais het die kind eers oor die voorval stilgebly, maar sy ouers twee dae nadat dit gebeur het, daarvan vertel.
Die polisie het bevestig dat die leerder vir 'n mediese ondersoek geneem is waarna die onderwyser in hegtenis geneem is.
Die saak is uitgestel na 17 Oktober vir verdere ondersoek.
Die woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van onderwys, Paddy Attwell sê die departement beskou die beweerde voorval in 'n ernstige lig.
Lees vorige artikels:
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'We bring you the latest Great-Brak, Garden Route news'