TUINROETE DISTRIK NUUS - George se tweede Covid-19-sterfte is vroeër vanoggend, Saterdag 30 Mei, bevestig.
Volgens Nadia Ferreira, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, is hierdie sterfgeval die vyfde Covid-19 verwante sterfte in die Tuinroetedistrik.
“Mosselbaai het ook twee sterftes aangeteken, en Knysna een,” sê sy.
Kassie Karstens, bestuurder van die Mediclinic George, het die nuutste geval in George bevestig en gesê die persoon is gisteraand, Vrydag 29 Mei, in hulle hoësorgeenheid oorlede. Hy het ook gesê dat 'n mediese dokter en twee verpleegpersoneellede van die Mediclinic wat onlangs positief vir die virus getoets het, tuis aansterk.
As gevolg van die vertrouensverhouding met pasiënte, kan geen besonderhede oor pasiënte bekendgemaak word nie.
Tot dusver is daar ‘n totaal van 19 460 gevalle van Covid-19 in die Wes-Kaap, met 10 508 mense wat herstel het. In die Wes-Kaap, het 472 mense reeds hul lewens weens die virus verloor.
Daar is tans 29 240 bevestigde gevalle van Covid-19 in Suid-Afrika. 611 Sterftes is aangeteken, en 15 093 mense het reeds herstel.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'