Update Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die bestuurder van die Volkswagen Polo wat op Maandag, 9 Maart kort voor middernag teen 'n aankomende vragmotor gebots het, het minstens 100m ver oor die dubbelbaan en die middelman van die N2 naby die Danabaai-afrit gerem voordat hy in die aankomende, 'n vragmotor wat brood vervoer het, reg van voor getref het.
Die insittendes van die Polo, almal Mosselbaaiers, was drie mans en 'n agtjarige seun. Dit is nie duidelik of die mans familielede van die seun was nie.
Die impak van die botsing was so erg dat die Polo bykans 25m verder eers in die gras tot stilstand gekom en ontplof het.
Al vier insittendes het onherkenbaar verbrand.
'n Bron het aan die Mossel Bay Advertiser gesê dat die oorledenes nie die impak van die botsing sou oorleef nie en waarskynlik opslag dood is.
Die vragmotorbestuurder en sy passasier was vanaf Kaapstad na George onderweg. Beide mans het slegs ligte beserings opgedoen, maar was so geskok ná die botsing dat hulle na 'n plaaslike hospitaal geneem is en daar behandeling ontvang het.
Kyk 'n video hieronder:
DNS-toetse
Hoewel die polisie 'n vermoede het wie die vier insittendes is, kan die identiteite nog nie bekendgemaak word nie, omdat DNS-toetse eers op die oorskot gedoen moet word. Die liggame kan nie deur familie uitgeken word nie.
Bloed, waar beskikbaar, is ook uit die liggaam van die bestuurder getrek om te probeer bepaal of hy onder die invloed van alkohol was. Volgens 'n ingeligte bron is bloed soms in die lies beskikbaar wanneer 'n liggaam verbrand het. Die voertuig, behoort aan 'n Mosselbaaier, wat nie tydens die voorval in die voertuig was nie. Polisiewoordvoerder, kapt Malcolm Pojie het met die Advertiser se ter perse gaan gesê, die identiteite van die oorledenes sal eers bekendgemaak kan word wanneer DNS-toetse dit bevestig.
"Ons kan nie name en vanne bekendmaak indien dit nie deur DNS-toetse bevestig is nie. Die liggame is onherkenbaar verbrand en kon dus nie uitgeken kon word nie. Ons wag dus op die toetsuitslae."
Intussen het die polisie ook met die familie van die vermoedelike insittendes van die Polo in verbintenis getree om te bepaal of hulle (die insittendes) wel tydens die botsing nie tuis was nie. Die KwaNonqaba-polisiestasie ondersoek ‘n saak van strafbare manslag en die ondersoek duur voort.
Die toneel waar 'n grusame ongeluk Maandagnag die lewens van vier mense geëis het. Links bo in die gras kan die uitgebrande strook gesien word waar die Volkswagen Polo ontplof en uitgebrand het. Die vragmotor het by die bome tot stilstand gekom. Foto: Jannie du Plessis
Die toneel waar die ongeluk plaasgevind het. Foto: Googlemaps
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'