Update
MOSSELBAAI NUUS - Die identiteit van die vier mense, insluitend ‘n kind, wat gisteraand op die N2 by Danabaai in ‘n gru-motorbotsing gesterf het, sal eers later bekend gemaak word.
Polisiewoordvoerder, kapt Malcolm Pojie sê die insittendes van die Volkswagen Polo is onherkenbaar verbrand.
Dit het intussen bekend geword dat die kind agt jaar oud was.
Pojie kon nie die geslag van die insittendes bekend maak nie en sê ‘n nadoodse ondersoek behoort teen more gedoen te word.
Die oorsaak van die botsing moet nog bepaal word, maar ‘n voorlopige ondersoek dui daarop dat die bestuurder van die Polo om ongeveer 23:30 gisteraand beheer oor die voertuig verloor het, oor die middelman gery het en teen ‘n aankomende vragmotor gebots het.
Die vragmotor het in die rigting van Kaapstad na George gery en is ‘n broodafleweringsvoertuig.
Volgens Pojie het die twee insittendes van die vragmotor nie ernstige beserings opgedoen nie, maar is hulle geweldig geskok en is na ‘n plaaslike hospitaal afgevoer.
Die KwaNonqaba-polisiestasie ondersoek ‘n saak van strafbare mansslag.
Verwante artikel: Four killed in accident
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'