Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Lewensredders wat ontplooi is op Diasstrand het vroeër vanoggend die lewe van twee plaaslike seuns wat byna verdrink het, gered.
Volgens die groepleier, AJ Stander, het hy oomblikke voor die redding twee van sy lewensredders, Karla Odendaal en Gerdus Claassen ontplooi om die kinders te vra om uit die water te kom, toe dit blyk dat hulle in die stroom beland het.
Binne sekondes kon die lewensredders gevolglik die twee seuns (11) uit die stroom red.
Volgens ooggetuies het een van die seuns onmiddellik na die redding van die strand verdwyn, terwyl die ander een per ambulans na 'n plaaslike hospitaal geneem is.
Nooddienste was baie gou op die toneel om die lewensredders by te staan terwyl munisipale nooddienspersoneel in siviele drag ook byderhand was om hulp te verleen.
"Dit was die eerste voorval sedert die seisoen begin het," het Stander bevestig.
Hy sê daar was sewe lewensredders aan diens ten tye van die voorval.
'n Geskatte 3 500 mense het die strand in die perfekte somerdag besoek.
Volgens een van die veiligheidswagte wat op die parkeerarea ontplooi is en nie geïdentifiseer wil word nie, was die seuns baie gelukkig dat die lewensredders so blitsig by hulle was om hul uit die water te red.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'