Video
MOSSELBAAI NUUS & VIDEO - Te oordeel aan meningspeilings in die aanloop tot die nasionale en provinsiale verkiesing op 8 Mei is die Demokratiese Alliansie se volstrekte meerderheid in die Wes-Kaap in gedrang, en is dit nie uitgesluit dat die party nasionaal steun gaan afstaan nie.
Die LUR vir finansies in die Wes-Kaapse parlement, dr Ivan Meyer, het egter aan die Mossel Bay Advertiser gesê dat dat die DA in die verlede telkens die resultate van meningspeilings verkeerd bewys het.
Die minister het Mosselbaai op Maandag, 8 April, 'n maand voor die verkiesing op Woensdag, 8 Mei besoek.
"Die jongmense van vandag moet aangemoedig word om in groot getalle aan die verkiesing deelneem, dit is hulle toekoms wat in die volgende 25 jaar bepaal sal word," aldus minister Meyer.
Dr Meyer sê die DA het 'n groeiende aantal jongmense tydens die registrasieproses vir vanjaar se verkiesing by stempunte vir die verkiesing geregistreer.
"Ons weet dat stempatrone besig is om te verander. Ons beleef dit dat die jeug soms geen toekoms sien nie, juis omdat hulle werkloos is. Groot getalle van hierdie jeug het wel deur die DA vir die verkiesing geregistreer. Hulle het beleef dat die DA 508 000 nuwe werksgeleenthede in die afgelope 10 jaar geskep het. Die DA het ook deur vakleerlingskappe 'n groot impak op die lewens van die jeug gemaak. Dit is duidelik dat jongmense meer op vakleerlingskappe sal moet fokus ter wille van werkskepping."
Die minister het bygevoeg dat onlangse tussenverkiesings in die Wes-Kaap getoon het dat kiesers in groot getalle hulle agter die DA skaar. Hy sê die party se veldwerk doen goed omdat kiesers geloof plaas in die party se strewe na een Suid-Afrika vir almal.
Kyk 'n video hieronder:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'