Gereed vir die seisoen, het eienaars At en Elnida van Zyl besluit om nou op Vrydag en Saterdagaande, 'n a-la-carte spyskaart te bedien. Die gewone spyskaart sal nogsteeds op Sondae beskikbaar wees.
Die aptytwekkers, wat wissel van sop van die dag, gerookte hoenderborsie-slaai, vis en slakke, maak die keuse sommer uit die staanspoor moeilik! Pasta, vis, gerolde hoender en kruisskyf bedien met aartappelwiggies, groente en geroomde spinasie, bied 'n heerlik en gesonde hoofmaal.
Roomys met sjokolade sous, Crème Brulee en twee soorte kaaskoek rond 'n perfekte maal af. Die geregte is smaaklik voorberei en word keurig bedien.'n Verskeidenheid wyne is beskikbaar en vir die seisoen is besluit om Boplaas se Sauvignon Blanc met die naam 'Stoepsit' as die huiswyn te bedien. Die vrugtige smaak van die wyn hou die belofte in om 'n heerlike kuierwyn te word.
Die atmosfeer is gesellig en rustig met sagte klavierspel in die agtergrond.
Diens deur die kelners is flink en vriendelik en dis beslis die moeite werd om uit te ry en hier 'n aand te kom geniet.
Bespreek ook vroegtydig vir die Proefees in 2014, want Tannie Poppie van Kokkedoor gaan kookdemonstrasies op die Saterdag hou en dan is syself verantwoordelik vir Sondag se heerlike maaltyd. Die Proefees vind vroeg in Maart 2014 plaas.
Besprekings is ook noodsaaklik vir die a-la-carte spyskaart en kan gedoen word by 076 190 3330.

Die hoofmaal is beslis iets om oor huis toe te skryf.

Die heerlike nagereg rond 'n perfekte maal af.
Foto's: Tersia Marais
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai | Tuinroete nuus'