Advertorial Gallery Video
TUINROETE SAKENUUS EN VIDEO - Rauch Gertenbach Prokureurs, wat op die vooraand van hulle eeuwording staan, brei hulle voetspoor in die groter Mosselbaai uit. Volgens Basson Piek, bedryfshoof van die firma, was hulle aan die begin van 2020 reeds van voorneme om dié opwindende stap te neem om hulle dienste na Hartenbos uit te brei.
Die Covid-19-pandemie het hul planne effe vertraag, maar die firma se nuwe spogkantoor in Hartenbos, hoek van Kaap de Goede Hoop-laan en Bloukransweg is nou ten volle operasioneel. Die kantoor hanteer voltyds aktes en boedels, asook litigasiedienste.
“Vir ons is die skep van ‘n satellietkantoor in Hartenbos ‘n uiters sinvolle skuif,” sê Piek. Die beweegrede, brei hy uit, is om aan die regsbehoefte van die publiek van Hartenbos en omgewing te voldoen.
“Hartenbos het geografies in ‘n baie belangrike area ontwikkel vanwaar ons kliëntebasis meer effektief gediens kan word.” Met die hoeveelheid eiendomsontwikkeling rondom en net buite Hartenbos in die vooruitsig en met die firma se fokus op aktebesorging, is dit ideaal.
“Rauch Gertenbach beskik oor een van die grootste fidusiêre praktyke in die Suid-Kaap en baie van die firma se kliënte woon in die omgewing en die nuwe kantoor maak die verskaffing van dienste soveel meer toeganklik.”
Foto's: Rauch Gertenbach professionele staf
Die skuif kom tydig aangesien, meen Piek, die firma se kantoor in Kerkstraat, Mosselbaai sy kapasiteit wat spasie betref, bereik het. “Ons maak nie nuwe aanstellings in Hartenbos nie, maar het van ons personeel uit Kerkstraat na Hartenbos geskuif. Daar sal voltyds ‘n prokureur by die Hartenbos-kantoor beskikbaar wees en ons sal waarskynlik in die afsienbare toekoms nog ‘n aanstelling moet maak.”
Die nuwe kantoor straal Rauch Gertenbach se beeld van professionaliteit, kwaliteit, ‘n ryk geskiedenis en tradisie uit, terwyl ‘n warm, vriendelike ontvangs tasbaar is sodra kliënte die ontvangsportaal binnekom. “Ons besef dat ‘n besoek aan prokureurskantore kliënte dikwels gespanne maak, daarom was ons oogmerk met die nuwe kantoor om juis die teenoorgestelde ervaring sommer met die intrapslag, te skep. Kom drink gerus net ‘n koffie by ons en ervaar dit eerstehands,” nooi Piek.
Kyk 'n video hieronder:
Aan die stuur van sake by die nuwe kantoor op Hartenbos is (voor) Erica de Moor en Denise Barkhuizen, beide akte-assistente en (agter) Sonia Bester (ontvangs) en Basson Piek (bedryfshoof).
Satellietkantoor in Danabaai
Die opening van die kantoor in Hartenbos, is maar een van die opwindende verwikkelinge wat Rauch Gertenbach vanjaar vier. Op 1 November, open die firma ook ‘n satellietkantoor in Danabaai.
“Vanuit ‘n strategiese perspektief, is ons besonder opgewonde oor hierdie uitbreiding. Die kantoor sal aktes en boedels hanteer. Indien kliënte litigasiedienste benodig, kan dit per afspraak by hierdie kantoor gedoen word.”
Ook by die firma se kantoor in George is daar ‘n paar interessante verwikkelinge. Die kantoor spog met die aanstelling van ‘n nuwe litigasie prokureur, Gavin Jordaan. Boonop neem die hoogs ervare Barend Kruger van die Mosselbaai-kantoor, vanaf September die leisels in die litigasie-afdeling by die George-kantoor oor. Nog ‘n swaargewig in die regsveld, Dirk Schoeman, ‘n gesoute aktevervaardiger van Bloemfontein, sluit hom in Oktober as senior assosiaat by die firma aan.
Laastens bied die aanstelling van Enrico Acker as ‘n spesialis, welkome versterking tot die insolvensie- en sakereddingsafdeling.
Volgens Piek hou al hierdie opwindende verwikkelinge direk verband met die firma se toename in besigheid. “In 2022 vier Rauch Gertenbach Prokureurs hulle 100ste bestaansjaar. Vanaf 2021 gaan die firma in groot dankbaarheid met ‘n opbou na die viering van hierdie groot mylpaal begin. Wees op die uitkyk.”
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo news'