Met sy uitsig oor die pragtige Monte Christo Ekolandgoed buite Mosselbaai en gerieflike en veilige ligging binne die Monte Christo Aftreeoord, bied hierdie sorgsentrum 'n welkome toevoeging tot hierdie streek se opsies vir gesondheidsorg vir die oues van dae.
Mark Tuechert, van Lazercor Developments, het met entoesiasme vertel, "Ek is ongelooflik opgewonde oor die opening van De Caravel, wat nou die Monte Christo Aftreeoord se pakket vervolmaak. 'n Spesiale woord van dank aan my vrou, Marion, vir die inspirasie en visie in die oprigting van die pragtige gebou. Aan die professionele span, kontrakteurs, Monte Christo gesondheidsorgpersoneel en die Lazercor span, baie dankie dat jul ons visie deel en vir jul toewyding met die projek – dit word opreg waardeer."
Die sentrum is volgens internasionale standaarde toegerus, met tegnologies-intelligente moniteringstelsels en selfs opsionele geslote-baan TV-kameras in elke verswaktesorgkamer. Dienste wat deur die bekwame personeelspan aangebied word, sluit intensiewe 24-uur verpleging en algemene sorg vir geriatriese en terminale toestande in.
Die sorgsentrum is ontwerp om voorsiening te maak vir 16 pasiente, en privaatheid en persoonlike diens te verseker.
Daar is ook verskeie fasiliteite in die klubhuis, wat 'n restaurant en fasiliteite soos 'n haarsalon, biblioteek en sitkamer insluit.
Kallie Smit van die Mosselbaai Munisipaliteit het namens die Burgermeester 'n toespraak gelewer.
"Daar is 'n groot vraag na aftreeoorde in Suid-Afrika. Meeste aftreeoorde waarvan ek weet het 'n lang waglys en die kans om ooit verblyf in so 'n fasiliteit te kry, raak net by die dag kleiner. De Caravel sal belangrike gemeenskapsbehoeftes aanpreek deur basiese gesondheidsorg, verswaktesorg, tuisversorging en –assistering te bied," het Fereira gesê.
"Verdere goeie nuus is dat hul ook verswaktesorg dienste bied aan mense bo die ouderdom van 50, wat nie in die Monte Christo Aftreeoord woon nie."
Vir diegene wat verkies om meer onafhanklik te wees, maar steed hulp op 'n daaglikse basis nodig het, bied die sorgsentrum 'n medium-sorg (bystand-) opsie aan, wat toesig gedurende die nag, asook die bestuur van medikasie en die voorsiening van daaglikse maaltye insluit.
'n Kliniek, gerig op die inwoners van die Monte Christo Aftreeoord en Ekolandgoed, bied daaglikse konsultasies vir diagnostiese prosedures soos die meet van bloeddruk, verbandruiling en algemene konsultasies, asook 'n 24-uur noodreaksiediens regdeur die oord.
Fereira het afgesluit met die volgende, "Die konstruksie van hierdie fasiliteit het groot belangstelling gewek in Suid-Afrika en ek kan sê dat dit nou, en nie 'n oomblik later, die beste tyd vir hierdie ontwikkeling is.
Ek wil graag die beleggers, proffesionele persone en kontrakteurs bedank vir hul bydrae tot die oprigting van hierdie wonderlike fasiliteit, nie net vir Mosselbaai inwoners nie, maar ook vir die res van Suid-Afrika."

Karen Teuchert, Mike Teuchert, Mark Teuchert en Marion Teuchert by die openingsfunksie van De Caravel wat onlangs plaasgevind het.