Sponsored Content
MOSSELBAAI NUUS - Die Nomads Motorfietsklub van Kaapstad bied die naweek van 28 tot 30 Oktober die Buffalo Rally by die ATKV-oord in Hartenbos aan.
Dit sal vanjaar die 15de geleentheid van sy soort in Mosselbaai wees. Die Buffalo Rally is uiters gewild onder motorfietsryers.
Die voorsitter van die Nomands Motorfietsklub, Luderick Jacoby sê 'n geleentheid van die omvang waar duisende motorfietsryers op die dorp toesak, het sy eie uitdagings.
"Terwyl ons, ons uiterste bes doen om enige ongerief uit te skakel of tot die minimum te beperk, doen ons 'n beroep op die gemeenskap om ons motorfietsryers asseblief vir die naweek te verdra," sê Jacoby.
Jacoby sê hulle is bewus daarvan dat een van die vernaamste ongerieflikhede die onnodige geryery van motorfietse laat in die nag en selfs dalk tot in die vroeë oggendure is.
"Ons wil u verseker dat ons ons bes doen om dit te probeer keer, maar met 'n geleentheid van hierdie grootte, tesame met die grootte van die kampterrein, is dit 'n byna onmoontlike taak om dit heeltemal te keer."
Jacoby sê soos in die verlede, hoop hulle dat die inwoners van die Mosselbaai die naweek net soveel sal geniet soos die talle motorfietsryers wat die dorp besoek.
"Die publiek is welkom om op Saterdag, 29 Oktober om 10:00 by die Garden Route Casino in te loer om van die unieke motorfietse te besigtig asook om te sien hoe die Le Riche Brothers hul toertjies uitvoer.
Die motorfietsoptog sal op Saterdag, 29 Oktober om 11:00 van buite die ATKV-oord vertrek en 'n sirkelroete via Die Punt, KwaNongaba en terug na die kampterrein in Hartenbos volg.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'