MOSSELBAAI NUUS - Tydens 'n uitnemende galageleentheid wat die afgelope naweek by die Dias Hotel plaasgevind het, het die Mosselbaai-besigheidskamer die volgende toekennings aan sakelui van Mosselbaai oorhandig.
Hierdie toekennings word jaarliks in drie kategorieë gedoen naamlik klein, medium en groot besighede.
Die wenners in die klein besigheidskategorie is Hennie en Soney Muller se bekende Coffee@Work wat sedert Mei 2015 heerlike koffie en ligte etes bedien. Hierdie innoverende koffiewinkel is uiters gewild onder veral sakelui in die middedorp.
Oliver Bande is die wenner in die medium kategorie en onder die bekwame ysterhand van eienaar Lorette Grobbelaar, is die kwaliteitdiens en produkte by hierdie besigheid alombekend.
Life Bay View Privaat Hospitaal het die gesogte toekenning vir groot besigheid van 2017 ingepalm. Hulle het ook die toekenning in 2015 ontvang.
Hierdie instansie bied omvattende mediese dienste waar die groeiende populasie van Mosselbaai verseker kan wees van hoë kwaliteit mediese versorging.
Voorsitter van die Mosselbaai-besigheidskamer voorsitter Fanus Truter (links) saam met die Efficient Wealth-span wat Dawie Roodt vir Vrydagaand se galageleentheid geborg het. Die Efficient Wealth-span is: Willem Basson en Rina Krüger (Effiecient Wealth se finansiële adviseur in Mosselbaai) en Dawie.
Twee spesiale toekennings is ook hierdie jaar gedoen. Marika Thomatos het erkenning ontvang vir haar toegewyde en lojale diens en ondersteuning aan die Mosselbaai-besigheidskamer.
Die Mosselbaai-munisipaliteit het 'n toekenning ontvang vir hulle bydrae wat gelei het tot Mosselbaai as wenner in die Kwêla Dorp van die Jaar-kompetisie.
Hennie Muller, Soney Muller (Coffee@Work), Lizelle Scheepers, Petri Conradie en Andrea Joubert (Life Bay View Privaat Hospitaal), Dawie Roodt (gasspreker), Marika Thomatos (Mosselbaai Besigheidskamer), Thys Gilliomee (Mosselbaai-munisipaliteit), Fanus Truter (Mosselbaai-besigheidskamer) en Lorette Grobbelaar (Oliver Bande).
ARTIKEL: TERSIA MARAIS, MOSSEL BAY ADVERTISER KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'