LANDBOU NUUS - Die huidige vlak van die Clanwilliam-dam is kommerwekkend vir landbou in die gebied wat nog vir die volgende paar maande water nodig het. Die dam staan tans op 36% teenoor verlede week se 40%.
Mnr Cornie Swart, President van Agri Wes-Kaap, sê hoewel die einde van die seisoen naby is, is dit steeds baie warm en het sitrusprodusente, wingerdprodusente wat na-oes bemesting moet toedien en produsente wat hul wingerde as gevolg van die droogte uitgehaal het en kontantgewasse soos groente aangeplant het, nog water nodig.
Hy sê daar is ‘n moontlikheid dat produsente aan waterbeperkings onderwerp kan word as die damvlak tot by 25% daal.
Mnr Swart sê daar is nog nie duidelikheid wanneer bouwerk aan die Clanwilliam-dam gaan begin nie en die landbou het geen sekuriteit dat dit wel gaan gebeur nie. Die Departement van Water en Sanitasie het verlede jaar aangevoer bouwerk sal in Maart 2023 afgehandel wees.
“Agri Wes-Kaap sal dit verwelkom as die bouwerk begin. Die gebied is ‘n groot sitrusproduserende streek met die ideale klimaat daarvoor, maar water bly die uitdaging,” het hy gesê.
Hy sê ongeveer 5 000 ha grond tussen die Bulshoek- en Clanwilliam-dam kan met ‘n waterkwota hoëwaarde uitvoergewasse soos sitrus en tafel- en wyndruiwe ontwikkel en geleenthede vir hervormingsprojekte en die vestiging van nuwe produsente skep.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'