TUINROETE | KAROO NUUS - SA for Hope se volgende uitreik na droogtegeteisterde boere is op Saterdag 17 Junie na die Oos-Kaap, net suidoos van Jansenville.
"Hierdie boere word swaar geraak deur die langdurige droogte en sporadiese reën bring min verligting. Hier is nog baie nood en swaarkry. Ongeveer 100 gesinne - boere en hul plaaswerkers - in hierdie area moet gehelp word," sê Pieter du Plessis, 'n direkteur van SA for Hope.
Een van die boodskappe wat SA for Hope ontvang het, lui so: "Ons vra vir hulp vir 'n paar families wat redelik wyd verspreid lê in die omgewings van Jansenville, Klipplaat, Steytlerville en Wolwefontein. Hierdie mense is op breekpunt. Baie vee is verloor.
"'n Jong boer se bakkie het ingegee en hy ry met 'n onpadwaardige voertuig. Februarie/Maart het dit lekker gereën, maar te min en die veld is al weer dood. Enigiets is welkom om hierdie mense net 'n bietjie verligting te gee."
Nog 'n boodskap lui, "Sonder krag, sonder kos, generator kan net so lank hardloop, petrol te duur. Geen yskas of vrieskas werk sonder krag nie. Dink vir net een oomblik hoe jy gaan cope, ek lê al van half 4 af wakker. Het jy kos gehad gisteraand? My magie het iets ingehad, het jy dalk op 'n koppie tee gaan slaap? Hoe bly jy positief? Ek dink aan jou en ek bid vir jou, hoe kan ek jou help? Ek kan nie sit en kyk hoe jy wegkwyn nie.
"Hoe kan ek maak om blikkieskos, wat sy net kan oopmaak, in te samel? Gasstofie brand net tot gas opgee. Ons aanvaar baie dinge as vanselfsprekend, maar hierdie tannie van in die 70 het gister haar twee laaste snytjies brood vir haar seun gegee, sonder peanut butter, want dis ook op.
Ek is moeg gevra, ek is moeg gebedel, maar alleen kan ek nie hierdie tannie help nie. Ek moet na julle draai vir hulp."
Du Plessis sê sulke boodskappe laat 'n mens magteloos voel, maar as elkeen net 'n klein bydrae kan lewer kan 'n verskil gemaak word.
Oos-Kaapse boere kry ontsaglik swaar weens die droogte.
Sonverhitte geisers gevra
Bykomend tot kosdonasies en ook skenkings van basiese benodigdhede en veevoer wat boere so dringend nodig het, sal sonverhitte geisers ook baie welkom wees.
Baie boere kan nie meer elektrisiteit bekostig om hulle geisers aan te sit vir warm water nie. 'n Dringende beroep vir skenkings word op die publiek gedoen.
Kontak Pieter du Plessis by 076 844 6435 as jy op een of ander manier kan help.
'n Donkie word gebruik om warm water te maak op 'n plaas waar daar nie meer geld vir elektrisiteit is nie.
Tazmin Brits help SA for Hope
Tazmin Brits, 'n lid van die Protea-vrouekrieketspan, het haar gewig agter SA for Hope ingegooi. Sy verteenwoordig Suid-Afrika oral in die wêreld en met haar plaasagtergrond, het Brits 'n sagte plek in haar hart vir boere in nood.
Sy sal SA for Hope bekendstel op sosialemediaplatforms, tydens internasionale toere en onder plaaslike spelers en borge. Sy sal ook uitreike van SA for Hope meemaak wanneer dit in haar aftyd plaasvind.
Tazmin Brits, Protea-vrouekrieketspeler, het 'n simpatieke hart vir boere wat swaartrek en gaan SA for Hope help deur die organisasie bekend te stel oral waar sy gaan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’