Die derde KKI en De Zeekoe Sportdag, waartydens deelnemers kan perdry, fietsry, draf of stap, is die voorloper van die Volmoed Uithourit wat Saterdag 14 September plaasvind.
Inskrywingsgeld vir Vrydag se aktiwiteite is: 5km Pretstap: R20; 14km Pretdraf: R30; 23km Bergfietsroete: R40; en 40km Perde-uithourit: R300. Inskrywings begin om 13:00, en die wegspring is om 15:00.
Verskeie sakeondernemings van Oudtshoorn dra by om die geleentheid moontlik te maak. Klein Karoo International, wat R10 000 se volstruisvleispakkies borg, gee die pas aan met gesonde kos vir ‘n gesonde liggaam.
Motorhandelaars Nissan, Klein Karoo Toyota en Volkswagen gaan die waterpunte langs die roetes beman. “Ons wil graag betrokke raak by die sportdag vir die gemeenskap omdat volstruisvleis pas by die tema van gesondheid deur sport,” sê Len Droomer van KKI, wat die volstruisvleis vir die sportgeleentheid borg. “Ons borg graag sportgeleenthede, soos die Pioneer en Epic-fietsrenne, want ons volstruisvleisproduk bevat lae vet en hoe proteien wat sportlui nodig het.” Die leer- en vere-afdeling van KKI borg oor sleutelhouers van volstruisleer.
Radie Loubser van Volkswagen is trots op die VW Amarok wat die toekenning gekry het as sleepvoertuig van die Jaar. Die bakkie is sinomiem met die leefstyl van mense wat die buitelewe geniet,” sê hy.
“Ons betrokkenheid by die gemeenskap is vir ons baie belangrik, en ons gee graag op hierdie manier iets terug vir die publiek wat ons ondersteun,” sê Marius Zaayman van Klein Karoo Toyota.
Volgens Arno Greyling van Oudtshoorn Nissan is die sportdag “uit die gemeenskap vir die gemeenskap”. “Dit is ‘n pragtige gemeenskapsprojek waarby ons graag betrokke wil wees.”
Die breër gemeenskap, wat bejaardes, gestremdes en ook skoolkinders uit agtergeblewe gemeenskappe insluit, word tydens die sportdag trakteer en hulle mag gratis deelneem aan die aktiwiteite.
Dit is die derde keer dat die sportdag en uithourit op Boetie en Paula Potgieter se plaas De Zeekoe aangebied word. Weens die goeie reëns is die veld waardeur al die roetes gaan oortrek van blomme en naambordjies sal die verskillende spesies uitwys.
De Zeekoe is ook bekend vir die Meerkat Avonture wat deur Devey Glinister aangebied word. Die Potgieters borg ook unieke meerkat-medaljes uit hout gekerf vir deelnemers.
Sowat 70 bekende en minder bekende ruiters van so ver soos Kaapstad en Port Elizabeth het ingeskryf vir die uithourit wat Saterdag plaasvind. Die verskillende afstande is 40km (R300), 80km (R600) en 120km (700), en dit begin om 06:00.
Kontak Sonica Lareman by 084 221 7593 vir meer inligting.
.jpg)
Alles is reg vir Vrydag se sportdag en Saterdag se uithourit by die Kansa-veilingkrale op Volmoed. Van links is Marius Zaayman, Arno Greyling, Adamia du Bois, Len Droomer, Paula Potgieter, Sonica Lareman, Gerald McNeil as die Meerkatman, en Radie Loubser. Foto: Tisha Steyn
'Ons bring jou die nuutste Klein-Karoo | Tuinroete nuus'