'n WARE KORTVERHAAL - Ek weet nie wat dit met my en Jode is nie…
In die vroeë sestigs in Augrabiesstraat op Upington het ons tussen twee Joodse gesinne gewoon, die Hummels en die Lenhofs. Die twee Lenhof-kinders was Robyn en Abraham, kortweg Bramie.
Hulle en die Hummel-seun, Merwyn was saam met my op Laerskool op die Voorpos, waar hulle onder die uitskieters was.
Jy kon hulle Boerejode genoem het, want hulle het grotendeels en feitlik noodgedwonge, verafrikaans.
In 1987 het ek op Kibboets Machemheim as vrywilliger gewerk. Nog later was ek gelukkig genoeg om die handelssregte vir ‘n Israeliese produk te kry.
Maar, hierdie storie gaan eintlik oor my en ‘n Joodse vriend se vaart oor die Golf van Lyon in die Middellandse see.
Van Mafiaboot na Waterblommetjie
Ek het haar in Port Grimaud opgespoor - aan die Meditereense kus sowat drie ure se ry van ons gerestoureerde plaasopstal in Monpardiac, Le Gers.
Sy was ‘n Alpha-ontwerp van die befaamde Sparkmann & Stephens-tipe en in ‘n Italiaanse skeepswerf gebou.
Ek en Tisha het haar eienaars, Paddy en Jacques Cadet aan boord ontmoet.
Jacques was ‘n deurtrapte Fransman en kon (of wou) niks anders as Frans praat nie. Paddy was Engels maar, soos duisende ander buitelanders wat in Frankryk wou nesskop, moes sy Frans leer - en sy het.
Die aand oor confit de canard en oorvloedige hoeveelhede rooiwyn, het ons die transaksie beklink. Ek was eensklaps die eienaar van ‘n 42 voet-lange kaag (1) van 15 ton.
“Jy sien Pierre, hierdie boot het ‘n geskiedenis. Ce bateau est un ancien voilier de transport de contrebande de la Mafia!” Ek het verstaan. My nuwe vaartuig is in Italië gebou en was ‘n Mafia-smokkelboot!
"Mais pas de souci, Pierre. Ek sal jou met alles help," stel Jacques my gerus.
Ja, dit was alles ‘n bietjie oorweldigend, maar dis wat gebeur as jy ‘n lewenslange swakheid vir bote het.
En wat het ek, van Mariental, en komende van die verkeerde kant van die treinspoor, per slot van rekening in ‘n land soos Frankryk kom soek?
Pierre Massyn op sy boot in Port Grimaud voor hy haar Waterblommetjie herdoop het.
Sake in San Tropez
Die volgende dag is ek en Jacques na San Tropez vir adminstratiewe formaliteite.
Ja, dié San Tropez - speelplek van die superrykes aan die verruklike maar onbekostigbare Franse Riviera.
Blyplek van sterre soos tennisster Henri Laconte en wyle Brigette Bardot. Tussen drywende paleise van miljoene Euros waar die jenewer en Brut soos water vloei, meer ons vas.
Met Jacques se kontakte by die Capitainerie van die miljoenêrsmekka word Waterblommetjie summier in my naam geregistreer - die eerste en enigste boot met 'n Afrikaanse naam onder die Franse vlag.
Maar ek moes ‘n hawe vir my boot kry, nader aan ons chateau, soos ons tong-in-die kies na ons blyplek verwys het.
My keuse val op Port Leucate, ‘n uur se ry van Perpignan op die Spaanse grens.
Later stel ek vas Perpignan was eers Spaans, totdat ene Napoleon Bonaparte op die toneel verskyn het. Ook later sou ek en Waterblommetjie na die veldheer se geboorte-eiland, Corsica seil op pad na Lesvos via Sisilië en die straat van Messina en onderom die stewel van Italie, maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag.
Ek ontmoet my mede-seevaarder
Vir Eddie Frankel en sy vrou, Pat, het ek op die mark in Mirande ontmoet.
Die mark waarheen ons elke Maandag gegaan het om die Franse cuisine en leefstyl te beproef, maar ook om die weergalose grande crème in die mark regoor die Hotel des Impôts saam met die expats of etrangéres - veral Britte - teug vir teug te geniet.
Eddie was ‘n ortodukse Jood. Van sy haardos met die kenmerkende krulle langs sy slape, tot die los jurk waarsonder jy hom nooit sou sien nie.
Ons het uit die staanspoor gekliek.
Soos hy my toenemend vertrou het, vertel hy my van die kaballah - die esoteriese, antieke en mistieke Joodse soeke na hoër goddelike wysheid. En ek vra hom oor wat ek in die Ou Testament gelees het het van tossels aan die vier hoeke van jou onderkleed (2), en op die plek wys Eddie my sy onderkleed, kompleet met vier tossels!
Eddie het iets geweet van seil. In Engeland geleer. En ons besluit ons gaan my boot haal.
Ek is nie in dieselfde klas as legendes soos Bruce Dalling, Bertie Reed en John Martin nie, (3) maar darem Suid-Afrikaans en met ‘n trans-Atlantiese deurvaart en ‘n seereis van Simonstad na Luderitz agter die blad.
Met die logistieke reëlings in plek, is ons per trein en huurmotor na Port Grimaud.
Seekaarte reg. Roete uitgewerk. Een oog op die weer, soos altyd, windrigting bepaal. Proviand aan boord. En, én.
Eddie Frankel voor die moeder van alle seesiektes hom dek toe gestuur het. Op land was hy nooit sonder sy jurk nie, maar hier was hy seevaardig - jurk af en krulle vasgebind.
26 April 2010 - op koers
Die oggend wat ons moes losgooi, is daar ‘n vertraging.
Soos gebruiklik moes daar een man aan die wiel wees en as jy gelukkig genoeg was om bootslui of crew te hê, moet daardie man die meertoue losmaak; die boot ‘n hupstoot gee weg van die kant af; en dan aan boord spring.
Dis ‘n operasie wat kan skeefloop as jy nie weet wat jy doen nie.
Omdat ek beweegliker as Eddie was, besluit ons ek is die man vir die taak. Maar daar was ‘n vertraging.
Ek het pas die agtertou van die meerpaal losgewoel, toe sien ek daar sit ‘n lywige figuur in die stuurkuip.
Onder sy Tallit (of seremoniele hooftooisel) wieg hy ritmies heen en weer, terwyl hy prewelend hardop uit sy Torah voorlees.
Dis Eddie. Vasgevang in 'n klassieke ritueel - ‘n tradisionele Joodse gebed - net soos sy voorvaders tydens en na die eksodus uit Egipte.
Mens moet ander se kultuur respekteer. En ek het. Maar Eddie se gebed het ons vertek met bykans ‘n uur vertraag. Maar ek kla nie, want elke oomblik is ‘n avontuur.
Ons eerste doelwit is Cap Cavelerie om ons uit die skilderagtige Baai van San Tropez te neem. Dan mik ons vir die eiland van Levant - deel van die îles d’Hyères-argipelago - ‘n stewige 40 seemyl van Port Grimaud.
My plan is om óm Levant te vaar, want ek wil nie tussen die eiland en die vasteland vaar in ‘n see wat ek nie ken nie en myself aan ‘n lykant (4) bevind met nie genoeg seeruimte vir lavering nie.
Ons koers is suidwes, wind aan die stuurboordkant. Ons gewaar Levant aan ons regterkant, los hom skuinsagter. Alles op koers.
Besoekers van bo
Die radio begin krap. Ek ignoreer dit.
Kanaal 16 is die algemene seevaart-kanaal. Seker maar die gebruiklike vissersbote wat onderling boodskappe stuur.
Toe hoor ons dit byna gelyk: die polsende tjoep-tjoep geluid wat swiepende helikopterrotors maak.
Ek kon sweer dit was ‘n Alouette, die soort wat Frankryk aan Suid-Afrika voorsien het.
Dis soos ‘n toneel uit ‘n Chuck Norris-fliek of iets uit Apocylpse Now of The Deer Hunter. Ek en Eddie in die stuurkuip. Die Franse helikopter reg bokant ons.
Onmiddellik begin ek dink dat my boot mos ‘n Mafia-smokkelvaartuig was. Is ek ‘n verdagte? Het die formidabele Franse kuswag snuf in die nuus gekry?
‘n Forsgeboude man hang halflyf uit die helikopter. Hy praat onmiskenbaar net met ons en niemand anders nie. Op ‘n megafoon.
Sy uniform vertel ons dat hy aan die Franse kuswag behoort. Tussen die geraas van die helikopter en die gedruis van die see, maak ek genoeg Frans uit om te besef ons is besig om te oortree in verbode gebiedswaters.
“Arrêtez-vous à l’instant ! C’est interdit ! Reculez immédiatement ! Revenez vers le nord de l’île de Levant ! Sous peine que notre bateau patrouille!”
Ons word gedreig met arrestasie onder begeleiding van ‘n Franse patrollieboot! Ons moet noord van Levant verbyvaar, presies wat ek nie wou doen nie.
Dis die weswaartse roete tussen die eiland en die vasteland.
Ons swaai om, koers gestel vir Cap Benat. Versigtig vaar ons om die Isle de Port-Cros.
Toe moet ons kophou in die nou seegang tussen Isle de Bagaut en Isle de Porquerollas. Hierdie eilande val almal onder die direkte beheer van die Franse Maritieme Owerheid en is ook geproklameerde natuurbewaringsvestings.
Les Isles Interdit lê nou agter ons en dit raak skemer, toe nag.
As die see se siekte jou vat...
Hoe donkerder dit raak hoe groter raak die deining.
As jy nog nie seesiek was nie, bid dat jy dit nooit ervaar nie.
Eddie was op sterwe na dood daardie nag.
Teen middernag het ek die boot vir ‘n wyle laat bylê (5) om ons situasie in oënskou te neem.
‘n Twee-en-veertig voet boot is nogal ‘n handvol as jy hom self moet hanteer.
Regs van my sien ek ligte gloei, soos ek skat seker 20 seemyl noord van my huidige posisie. Ek maak uit dat dit Toulouse moet wees.
Toulouse, waar ‘n jong artillerie-offisier met die naam Napoleon Bonaparte, toe ‘n jeugdige 24 jaar oud, die Britte en Spanjaarde in 1793 verjaag het.
Ek is alleen. Ek het Eddie Frankel die volgende 12 uur nie gesien nie. As die seesiekte jou vat, vat hy vir jou.
Ek is bekommerd oor Eddie.
Ek los die stuur en skuifel af na die groot kajuit. As ek nie Eddie se hortende asemteue gehoor het nie, sou ek oortuig gewees het hy’s dood.
Die beste wat ek vir Eddie kon doen was om sy koorsbeswete gesig met ‘n nat lap af te vee. As ek hom water gee, gooi hy eenvoudig op.
Waterblommetjie weeg meer as 15 ton, maar die see gooi ons rond soos ‘n veertjie. Daar’s water in die salon en ons seekaarte is deurweek.
‘n Patryspoort aan die stuurboordkant sluit nie behoorlik dig nie en water het die geneigdheid om oral in te syfer.
Seiljagsport word dikwels uitgebeeld as ‘n idiliese leefwyse met eksotiese bestemmings en aangeplakte romantiek, maar meer as dikwels is jy nat, koud of seesiek en uitgemergel weens gebrek aan slaap.
Jy word rondgegooi en pimpel en pers gestamp.
Ek was nie seesiek nie, maar ek was vir alle praktiese redes alleen op ‘n 42-voet boot wat ek skaars geken het... en dit in deinings van vier tot ses meter.
Die enigste boot met ‘n Afrikaanse naam onder die Franse vlag. Massyn het later met twee bemanningslede na Lesvos, Griekeland geseil.
Waterblommetjie vat water
Boonop het ek skielik ‘n nuwe krisis op hande. Die enjinruim oorstroom!
Hierdie skokkende ontdekking slaan my soos ‘n voorhamer toe ‘n stemmetjie vir my sê: Maak oop die enjinkamer se luik! Vinnig!
Die watervlak is reeds byna halfpad teen die blou 30 perdekrag Nanni opgestoot. Ons neem water in - vinnig.
Ek begewe my na die instrumentasiebord neffens die navigasietafel en net bokant die salondek.
‘n Verbluffende reeks knoppe, skakelaars en liggies begroet my. Ek probeer Jacques se bondige instruksies onthou.
Met sy liefde vir detail kon hy my selfs vertel dat die kommandeur van die capitainerie in Port Grimaude ‘n kêrel met die naam Vincent Bonnet is.
Nou span ek my moeë brein in om sy vinnige Frans met sy suidelike patois te dekodeer.
Ek weet wel waar is die navigasieligte se skakelaar want ek het dié met sonsondergang gevind. Daar is 'n lig op die mas, ‘n rooie aan bakboordkant en stuurboord het 'n groene.
In die halfduister tas ek met die hulp van ‘n koplampie na die skakelaars rond en probeer die Frans - deurspek met Italiaans - ontsyfer.
My waagskoot is raak. Het Eddie se vertreksgebed my bewende vingers die regte skakelaar laat vind? Ek skakel die suigpomp aan - die pomp wat buikwater uitsuig. Kort-kort kyk ek na die watervlak in die ruim - en hy daal.
Teen 05:00 vlam die daeraad rooi op die horison agter my.
Dit beteken ek seil wes, waarheen ek wil seil - eintlik suid-by-wes, om meer presies te wees; kompasrigting 260 grade.
Volgens my navigasie per gisbestek(6) is my posisie sowat 100 seemyl oos van Port Leuctate met sy koordinate van 42 minute 51’14 noord en 3 grade 2’4 oos.
Met my spoed van ses knope (7) is ek versigtig optimisties dat ek Port Leucate op hierdie dag sal haal.
Tjopper en Eddie steek kop uit
Maar die Franse owerhede was nog nie klaar met my nie.
Teen 09:00 hoor ek hom weer: die geklap van helikopterlemme. Laag swiep hulle oor my. Twee keer.
Wou hulle vir oulaas kyk of ek tóg ‘n traffico is? Of was dit blote magsvertoon?
Het my Afrikaanse aksent op kanaal 16 hulle agterdog gewek?
Maar ‘n tweede besoek van ‘n Franse helikopter binne 24 uur skakel enige moontliheid van toeval uit: hulle het my sonder twyfel dopgehou en wat meer is, met hulle gesofistikeerde radar en GPS opsporingstgelsels was hulle deurentyd bewus van my posisie en bewegings.
Teen 12:00 die middag steier ‘n bedremmelde figuur van die salon na die bodek. Dis Eddie - so bleek soos die dood self en oënskynlik heelwat skraler.
Ons het Port Leucate teen 15:00 daardie middag bereik.
Ek glo vas Joodse geluk het in ons guns getel met daardie epiese vaart oor die Golf van Lyon... en ook gehelp dat ons avontuur nie van Madame Frankel 'n weduwee maak nie!
Pierre Massyn is ‘n oud-joernalis, skrywer en Franse burger.
VOETNOTAS
1. Kaag: tweemaster-seiljag waarvan die agterste mas korter is as die hoofmas.
2. Deuternomium 22:12.
3. Bruce Dalling was ‘n Springbok-seilvaarder wat in 1968 eerste op aangepasde tyd vir enkelkielbote geëndig het in die Observer se enkelhandige Transatlantiese wedvaart. Reid en Martin was seilgenote, ook Springbokke en beide in die vloot. Reid op Grinaker het Martin van ‘n gewisse watergraf gered toe Martin se boot, Allied Bank, besig was om te sink in die 1990/91 BOC Uitdaag-wedvaart.
4. Lykant: Die windafkant, oftewel die teenoorgestelde van die loefkant of weerkant. Wat seevaarders teen elke prys wil vermy, is om deur ‘n wind landwaarts gedruk te word sonder beheer oor ‘n vaartuig - bekend as 'n lee shore.
5. Bylê: Hove to in Engels. Om die boot skuinsdwars teen die wind te draai met die seile so gespan dat hulle opponerende magte uitoefen en die boot dan tot stilstand kom - behalwe as daar ‘n seestroom is. Waterblommetjie kon bylê deur die voorseil in een rigting te laat inbol en die agterste seil te laat uitbol.
6. Gisbestek: Deur die afstand wat jy in ‘n bepaalde tyd, teen ‘n bekende spoed en in ‘n spesifieke rigting aflê, kan jy rofweg jou posisie op bv ‘n kaart bepaal, sonder inagneming van die effek van seestroom wat vir navigasiedoeleindes ook ingefaktor moet word.
7. Een knoop = een seemyl = 1,852 kilometer.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’