MOSSELBAAI NUUS - "Ek het al soveel keer in my lewe my gat gesien, ek is bang vir f*kk*l."
Dis nou Elzabé Zietsman se lewe en haar uitkyk daarop, opgesom.
Zietsman was onlangs vir twee aande hier op Mosselbaai by The Stage Coach @ Santos Express met haar cabaret, 4 Panado's en 'n Chardonnay. Beide dié aande se kaartjies was uitverkoop.
Mossel Bay Advertiser het voor die vertonings met haar gesels om te hoor wat presies behels die pille en die wyn.
Die terugvoer het sy sommer gemaklik per stemnota aangestuur terwyl hulle op die pad was.
"4 Panado's en 'n Chardonnay gaan hoofsaaklik oor veerkragtigheid, en dan veral oor ons Suid-Afrikaners en óns veerkragtigheid. Dis 'n cabaret, so daar is heelwat sosiale kommentaar, maar dis vol hoop en ek dink dis wat die meeste mense uit die show kry as hulle uitstap - weer hoop en 'n effense ligter gewig wat op die hart druk, hoofsaaklik."
So was dit toe ook. Die gehoor het heerlik saam gelag en ook hul ontevredenheid beaam wanneer sekere kwessies soos korrupsie, beurtkrag en dies meer aangeraak is.
Elzabé Zietsman
Die positiwiteit wat 'n sport-wen in die land tot gevolg het noem sy ook - Siya en Dricus se name word genoem.
"Ek het nie 'n f*kking clue wat dit is wat ons weet nie, maar whatever dit is, dit werk!" Dit is alles natuurlik met skitterende sang-items verder geïllustreer.
En 'n goue draad kon dwarsdeur getrek word - ondanks alles wat in ons land gebeur (wat ander mense aan ons doen én wat ons aan mekaar doen), staan ons altyd op en gaan weer aan - as't ware 'n bewonderenswaardige veerkragtigheid.
En soms kom jy by die huis ná iets jou ontstel, geregverdig of nie, en drink 'n panado of twee saam met 'n glasie wyn, en dan gaan jy weer aan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’